Nuus 14:00
BULLETIN 13 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Oos-Kaapse skoolhoof lê strafregtelike klagtes teen Malema en Mbalula oor vals aantygings van verkragting
# Die Afrika-Unie is diep bekommerd nadat Israel kernteikens in Iran aanval
# En ‘n Australiese Olimpiese atleet word geskors oor die mishandeling van ‘n perd
# Die hoof van Bergview College in die Oos-Kaap, Jaco Pieterse, gaan klagtes van crimen injuria lê teen die leier van die EFF, Julius Malema, die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, en die LUR vir Onderwys, Fundile Gade, omdat hulle hom vals beskuldig het van die verkragting van ‘n leerder, Cwecwe. Pieterse sê die valse aantygings het dreigemente en persoonlike skade veroorsaak. Barry Bateman van AfriForum sê die polisie het geen bewyse van verkragting gevind nie en hulle gaan strafregtelike aanklagte instel:
# Nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola het aangekondig die polisie sal voor die einde van die maand vyf-duisend-500 nuwe lede werf. Hy sê hul opleiding sal tussen Januarie en Februarie volgende jaar begin. Masemola sê die ouderdomsbeperking om by die polisie te kan aansluit is tot 35 verhoog, in ooreenstemming met die Nasionale Jeugbeleid:
# Die Afrika-Unie het ernstige kommer uitgespreek nadat Israel bykans 100 teikens in Iran aangeval het, insluitend kern- en militêre persele in Teheran. Voorsitter Mahmoud Ali Youssouf vra die onmiddellike staking van vyandelikhede en dat alle partye uiterste selfbeheersing toepas. Hy sê ook die verwikkelinge is ‘n ernstige bedreiging vir internasionale vrede en veiligheid. Rusland het ook die aanval veroordeel en is bekommerd oor die skerp toename in vyandelikhede tussen Israel en Iran. Die hoof van die Verenigde Nasies se kernwaghond, Rafael Grossi, sê kerngeriewe moet nooit aangeval word nie.
# Perdesport: Die Australiese Olimpiese atleet Heath Ryan is geskors oor ‘n video waarin hy ʼn perd sowat 40 keer met ʼn sweep slaan. Die 66-jarige Ryan sê die voorval het twee jaar gelede plaasgevind en was deel van ʼn reddingspoging om ʼn probleemperd te rehabiliteer. Hy sê alles wat hy gedoen het, was in die dier se beste belang. Australië se beheerliggaam vir perdesport, Equestrian Australian, sê hy is uiters geskok en bekommerd oor die gebeure in die video en neem dierewelsyn baie ernstig op.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-71-sent teen die euro en 24-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-720-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-417-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 74-dollar-48-sent per vat.
# En laastens, die benoemings is oop vir die Defender-toekennings vir Suid-Afrikaners wat op voetsoolvlak ‘n verskil maak. Kategorieë sluit in natuurlewe, gemeenskap en die verdedigers van die land en die oseane. Die veldtog, wat deur die ikoniese handelsmerk Defender aangebied word, bied prysgeld van meer as twee-miljoen-rand, ‘n voertuig en ondersteuning van kundiges vir ‘n besondere plaaslike organisasie. Ross Holgate van die Kingsley Holgate-stigting, Ivy Wairimu van Tusk en die Springbok-legende Bryan Habana sal by ‘n paneel internasionale deskundiges aansluit om die finaliste te kies. Inskrywings sluit Maandag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….