Nuus 14:00
BULLETIN 4 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Dali Mpofu sê president Cyril Ramaphosa moet vrae beantwoord oor die Phala Phala-geld
# Volkswagen in Duitsland kondig reuse-werksbesnoeiings en aanlegsluitings aan
# En rugby: Swys de Bruin bedank as afrigter van die Springbok-vrouespan ná onenigheid met SA Rugby
# Die MK-party se regsverteenwoordiger, Dali Mpofu, sê president Cyril Ramaphosa kan nie verontskuldig word voor hy verduidelik wat geword het van die miljoene-rand wat op sy plaas, Phala Phala, gesteel is nie. Mpofu het die Wes-Kaapse Hooggeregshof toegespreek, waar Ramaphosa die bevindings van die Artikel 89-onafhanklike paneel betwis. Hy sê die Konstitusionele Hof-uitspraak oor die instelling van ‘n ampsklagkomitee het reeds bepaal daar is ‘n saak waarop Ramaphosa moet antwoord:
# Die minister van Landbou, Willie Aucamp, het ‘n deurbraak in uitvoeronderhandelings met Egipte aangekondig wat ‘n beduidende hupstoot vir Suid-Afrika se rooivleisbedryf kan beteken. Hy sê die ooreenkoms is ‘n belangrike mylpaal vir die landbousektor, wat die afgelope tyd teen een van die ergste uitbrekings van bek-en-klouseer in dekades worstel. Aucamp sê Suid-Afrika en Egipte het onderhandelings oor ‘n diere-gesondheidsertifikaat vir rooivleis-uitvoere van Suid-Afrika na Egipte suksesvol afgehandel.
# Die landbou-organisasie TLU SA vra die regering om beslissend op te tree om die verspreiding van staats-vuurwapens na misdadigers teen te werk. Hy verwys na die gewese polisieman Christiaan Prinsloo, wat tussen 2007 en 2015 sowat twee-duisend vuurwapens uit polisiebewaring aan misdadigers verskaf het. Bennie van Zyl van TLU SA sê die wapens moes vernietig word, maar is gesteel en aan bendes op die Kaapse Vlakte verkoop:
Nuus uit die buiteland:
# Die motorvervaardiger Volkswagen het ‘n verreikende kostebesparingsplan goedgekeur wat 50-duisend poste sal besnoei, die onderneming se modelreeks met die helfte verminder en voertuigvervaardiging in vier aanlegte in Duitsland sal beëindig. Volkswagen het ‘n oormaat produksievermoë van 500-duisend voertuie in Europa. ‘n Mededingende toekomstige produksietoewysing vir sy aanlegte in Emden, Zwickau, Hanover en Neckarsulm is nie verseker nie. Volkswagen het sowat 650-duisend werknemers wêreldwyd. Sy wins ná belasting het in die eerste helfte van die jaar met 30-persent afgeneem nadat Chinese verkope gedaal het.
# Rugby: Swys de Bruin het as hoofafrigter van die Springbok-vrouespan bedank, glo weens onenigheid met SA Rugby oor onbetaalde bonusse en inmenging. Die span berei tans voor vir môre se geskiedkundige eerste tuistoets teen die Black Ferns van Nieu-Seeland in Johannesburg, die voorwedstryd vir die mans-spanne se kragmeting op die FNB-stadion. Rapport berig die bonusse hou verband met die span se toere na Kenia en Fidji, hoewel De Bruin dit nie self meegemaak het nie. Sy kontrak sou tot na 2029 se Wêreldbekertoernooi geld.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-56-sent teen die euro en 21-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-832-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-471-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….