Nuus 14:00
BULLETIN 19 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu sê die regering durf nie rus terwyl die land ‘n werkloosheidsyfer van 41-persent het nie
# Die liggaamlike oorskot van 42 slagoffers van die Paasnaweek-busongeluk in Limpopo is geïdentifiseer
# En, rugby: Die Haaie en Glasgow skop vanaand die naweek se VRK-aksie in Skotland af
# Cosatu sê Volkswagen se belegging van vier-miljard-rand in sy Kariega-monteeraanleg in die Oos-Kaap is ’n teken dat regeringspogings deur middel van die Motorbedryf-meesterplan vrugte afwerp. Cosatu sê hoewel hy die positiewe verwikkelings verwelkom, het die land baie meer optrede nodig. Matthew Parks van Cosatu sê die regering mag nie op sy louere rus terwyl Suid-Afrika ‘n werkloosheidsyfer van 41-persent het nie. Hy sê die ekonomie het ook baie aktiewe ondersteuning nodig in die aangesig van talle groot uitdagings:
# Die liggaamlike oorskot van 42 slagoffers wat Paasnaweek in ‘n busongeluk in Limpopo gesterf het, is geïdentifiseer. Die provinsiale Gesondheidsdepartement sê dit is deur middel van DNS-monsters gedoen. Woordvoerder Thilivhali Muavha sê die 42 sluit die ses mense in wat reeds vroeër uitgeken is. Muavha sê ‘n span bestaande uit lede van die polisie se slagoffer-identifikasie-eenheid en Forensiese Patologie-dienste sal Maandag by die Mokopane-hospitaal vergader om repatriasie-reëlings vir die slagoffers se oorskot te finaliseer.
# Kopenhagen se burgemeester sal Frankryk se reaksie op die brand in die Notre-Dame-katedraal navolg met die hantering van die brand in die Deense hoofstad se Ou Aandelebeursgebou. Die 400-jaar-oue kompleks is erg beskadig toe ‘n brand Dinsdag uitgebreek het. Die punt van die toring het omgeval en ‘n groot deel van die dak het ineengestort. Die eienaars van die gebou, die Deense Kamer van Koophandel, beloof om die landmerk te herbou. Burgemeester Sophie Haestorp Anderson sê sy besoek Parys volgende maand om te leer oor die restourasie van die Notre-Dame.
# Rugby: Die Haaie en die Glasgow Warriors skop vanaand die naweek se Verenigde Rugbykampioenskap-aksie in Skotland af. Môre kom die Leeus op Ellispark te staan teen Jacques Nienaber se span, Leinster, en die Bulle pak Munster op Loftus. Die Stormers en Ospreys sal in Kaapstad teen mekaar uitdraf. Leinster is tans bo-aan die punteleer met elf oorwinnings uit 13 wedstryde, gevolg deur Glasgow en die Bulle. Die Stormers is vyfde, die Leeus elfde en die Haaie 13de uit die 16 spanne.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-21-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-851-dollar-31-sent. Die prys van goud is twee-duisend-381-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-57-sent per vat.
# En, laastens: Kaapstad se Gesondheidsdepartement het ‘n jaar-afname van 16-persent-afname aangeteken in opvolg-inentings van kinders jonger as 12 maande. Gedurende hul eerste lewensjaar bou kinders danksy aktiewe inenting immuniteit op teen verskeie aansteeklike siektes. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê wanneer kinders nie ten volle ingeënt is nie, bestaan die risiko om ernstige komplikasies te kry indien hulle besmet sou word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….