Nuus 14:00
BULLETIN 6 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die staatsdiensvakbond is bekommerd dat die regering en staatsinstellings miljoene rand aan spookwerkers betaal
# Gauteng Gemeenskapsveiligheid verwelkom ‘n afname in misdaad, maar ontvoerings bly ‘n ernstige bekommernis
# En, tennis: groot name vandag in die halfeindstryde van die Franse Ope in aksie
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê die gebrek aan beheer oor menslike hulpbronne het winsgewend geword vir krimineelgesinde mense wat salarisse ontvang sonder om in diens te wees in staatsdepartemente, semistaatsinstellings en munisipaliteite. Die woordvoerder van die vereniging, Claude Naiker, sê alle vlakke van regering en staatsbeheerde maatskappye betaal miljoene rand aan spookwerkers. Hy sê dit laat verdere vrae ontstaan oor die akkuraatheid van die totale aantal werkers soos verskaf deur hierdie departemente en organisasies:
# Die Gemeenskapsveiligheidskomitee van die Gautengse Wetgewer het provinsiale wetstoepassing geprys vir ‘n afname van 7,9-persent in ernstige misdade vanaf Januarie tot Maart vanjaar. Volgens statistieke het moord met 10,8-persent afgeneem, met polisie-optrede soos Operasie Shanela wat meer as 28-duisend arrestasies opgelewer het. Die komitee het egter diep kommer uitgespreek oor twee massamoorde, die dood van 11 polisiebeamptes en een plaasmoord. Dit het ook ‘n toename van 15,8-persent in ontvoerings uitgewys, wat oproepe vir dringende optrede tot gevolg gehad het.
# Die menseregte-hoof van die Verenigde Nasies, Volker Turk, eis dat Amerika die sanksies wat hulle teen vier regters van die Internasionale Strafhof opgelê het, moet ophef. Regters Beti Hohler van Slowenië en Reine Alapini-Gansou van Benin het deelgeneem aan verrigtinge wat gelei het tot ‘n lasbrief vir die inhegtenisname van Israeliese premier Benjamin Netanyahu. Regters Luz del Carmen Ibanez Carranza van Peru en Solomy Balungi Bossa van Uganda was deel van verrigtinge wat ‘n ondersoek gemagtig het na bewerings dat Amerikaanse magte oorlogsmisdade in Afghanistan gepleeg het.
# Tennis: Dis vandag mans-halfeindrondes by die Franse Ope in Parys. Die wêreld nommer twee en verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, speel tans verwoestende tennis en is die gunsteling om Italië se agtste gekeurde Lorenzo Musetti in die eerste halfeindstryd te klop. In die ander wedstryd speel die 38-jarige Novak Djokovic in sy 51ste Grand Slam-halfeindstryd teen nog ‘n Italianer, die wêreld se topspeler Jannik Sinner. Sinner en Alcaraz is albei na 2000 gebore en met sewe groot titels tussen hulle, is hulle nou op koers om mekaar in Parys te takel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-666-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-357-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-18-sent per vat.
# En laasten, die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het sy volle ondersteuning beloof aan die 437 polisiebeamptes wat Sondag aan die Comrades-marathon deelneem. Die groep sluit in 66 vroue en 371 mans. Meer as 80 nasies gaan verteenwoordig word in die afdraande-wedloop van sowat 89 kilometer van Pietermaritzburg na Durban. ‘n Polisiewoordvoerder, Nonkululeko Phokane, sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens is verbind tot sy lede se gesondheid en welstand:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….