Nuus 14:00
BULLETIN 5 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie sê die moordvlaag in Gauteng is ‘n uitdaging
# Suid-Afrikaners word aangemoedig om gedurende Nasionale Skenkersmaand bloed te skenk
# En, die VN waarsku die oseane-ekonomie word toenemend bedreig
# Die provinsiale kommissaris van polisie in Gauteng, Tommy Mthombeni, sê die moordsyfer het met 10,8-persent afgeneem tussen Januarie en Maart vanjaar, maar Gauteng loop swaar deur onder ‘n moordvlaag. Hy lys die grootste oorsake as rusies, misverstande, padwoede en uitlokking, met roof ‘n kortkop agter die ander oorsake. Volgens Mthombeni word moorde in Gauteng meestal in openbare plekke gepleeg, met die moordenaar se blyplek as die tweede algemeenste misdaadtoneel:
# # Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners om hierdie Junie, ter viering van Nasionale Bloedskenkersmaand, bloed te skenk. In ‘n onderhoud met eNCA sê die uitvoerende hoof, Ravi Reddy, hoewel daar tans geen tekort is nie, deurlopende skenkings noodsaaklik is vir operasies en noodgevalle. Met 14 Junie as Wêreldbloedskenkerdag, vra Reddy dat mense dit vier deur hulle te verbind tot skenking. Sy sê daar is ‘n toename van nuwe skenkers maar 15-persent van skenkers keer nie terug nie:
# Die organisasie VN Handel en Ontwikkeling, Unctad, het gewaarsku die wêreldwye oseane-ekonomie staar toenemende druk in die gesig weens omgewings- en politieke skokke. Die organisasie het in sy wêreldhandelsverslag vir Junie 2025 die belangrike rol van oseane in werksgeleenthede, voedsel, innovering en handel beklemtoon. Die sektor is 39-biljard-rand werd en ondersteun 100-miljoen werksgeleenthede, maar verkeer in gevaar weens klimaatsverandering, besoedeling en stygende tariewe. In aanloop tot die Derde Verenigde Nasies-oseanekonferensie in Frankryk volgende week versoek die organisasie sterker oseane-bestuur, groen beleggings, billiker handel en klimaats-aanpasbare mariene infrastruktuur.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het dieselfde 54 spelers wat verlede maand die tweede nasionale oefenkamp in Kaapstad bygewoon het, in sy finale groep vir die begin van die internasionale seisoen opgeneem. Die sesisoen skop op 28 Junie teen die Barbarians af. Daar is 31 wêreldbeker-spelers in die groep asook nege sonder enige toetservaring. Hulle is Marnus van der Merwe, Neethling Fouché, Asenathi Ntlabakanye, Cobus Wiese, Renzo du Plessis, Vincent Tshituka, Juarno Augustus, Ethan Hooker en Ntokozo Makhaza.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 24-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-772-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-395-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-97-sent per vat.
# En laastens, die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, sê plastiekbesoedeling is besig om die planeet te wurg, ekostelsels te skaad en die klimaat te verander. Vandag is Wêreldomgewingsdag met die tema Maak ‘n Einde aan Plastiekbesoedeling. Sowat 20-miljoen metrieke ton plastiekafval word jaarliks gestort en dit sal na verwagting teen 2040 aansienlik styg. Guterres sê die wêreld moet saamwerk om ‘n einde aan die plaag van plastiekbesoedeling te maak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….