Nuus 14:00
BULLETIN 4 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Magashule sê sy voormalige assistent is onskuldig te midde van NVG-appél teen hofbeslissing in asbesdaksaak
# Belastingbetalers dok R2,3-miljoen op vir Mashatile se reis na Japan
# En, drie studente is vir openbare geweld by Walter Sisulu-universiteit gearresteer
# Die voormalige Vrystaatse premier, Ace Magashule, dring aan sy voormalige persoonlike assistent, Moroadi Cholota, is onskuldig al appelleer die NVG volgende Vrydag teen die uitspraak van die Bloemfonteinse Hooggeregshof. Die Hof het bevind dat Cholota onwettig uit die VSA uitgelewer is en daar is nie genoegsame jurisdiksie het om haar in die asbesdak-bedrogverhoor van 255-miljoen-rand aan te kla nie. Die saak is tot 26 Januarie volgende jaar uitgestel. Magashule hou steeds vol dat die aanklagte polities-gemotiveerd is:
# Adjunkpresident Paul Mashatile se besoek aan Japan in Maart het belastingbetalers meer as 2,3-miljoen rand gekos, met byna 900-duisend-rand wat aan verblyf vir hom en sy vrou bestee is. Mashatile het in antwoord op ActionSA se parlementêre vrae bevestig die reis is onderneem om bilaterale bande te versterk en beleggingsgeleenthede te bevorder. News24 berig die uiteindelike rekening het meer as 1,2-miljoen-rand vir verblyf, 410-duisend-rand vir vervoer, 51-duisend-rand vir kos en agt-duisend-rand vir wasgoed ingesluit. ActionSA sê die reisuitgawes seder Julie verlede jaar vir uitvoerende lede van die regering van nasionale eenheid beloop meer as 184-miljoen-rand.
# Drie studente is in hegtenis geneem in verband met beweerde openbare geweld, skade aan infrastruktuur en eiendom op die Walter Sisulu Universiteit se Mthatha-kampus in die Oos-Kaap. ‘n Polisiewoordvoerder, Nobuntu Gantana, sê daar is voortdurende studentebetogings by die universiteit oor die vrylating van ‘n moordverdagte op borgtog wat verbind word met die dood van ‘n student, Sisonke Mbolekwa. Sy sê Mbolekwa is tydens protesoptrede in April doodgeskiet:
# Chinese lugdienste mag dalk volgende maand tot 300 smalromp- en wyeromp Airbus-passasiersvliegtuie bestel wanneer Europese leiers Beijing besoek. Bloomberg News haal bronne aan wat sê China bestel gereeld stralers tydens staatsbesoeke, maar waarsku ‘n ooreenkoms is nie gewaarborg nie, veral te midde van wisselvalligheid rondom handel. Daar is ‘n tekort aan vliegtuie in China nadat die land vir langer as vyf jaar groot bestellings teruggehou het. ‘n Groot bestelling kan ‘n terugslag beteken vir Airbus se grootste mededinger, Boeing, wat pas begin herstel het.
# Tennis: Jannik Sinner en Novak Djokovic probeer vandag om die halfeindronde by die Franse Ope te bereik, maar die kollig gaan op Lois Boisson in die vrouetoernooi wees. Die 22-jarige Franse speler is ‘n promotorskeuse en 361ste op die wêreldranglys. Sy speel teen die sesde-gekeurde Mirra Andreeva van Rusland nadat sy die derde-gekeurde Jessica Pegula uitgeskakel het. Djokovic speel vir ‘n rekord 19de keer in ‘n Franse Ope-kwarteindronde teen verlede jaar se naaswenner Alexander Zverev. Sinner pak die ongekeurde Alexander Bublik van Kazakstan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-761-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-354-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….