Nuus 14:00
BULLETIN 3 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma en Thales misluk in hulle poging om die korrupsiesaak te beëindig
# Die hof beslis Moroadi Cholota se uitlewering in die Ace Magashule korrupsie-saak was onwettig
# En, die Portugese polisie hervat ondersoek na Madeleine McCann wat in 2007 verdwyn het
# Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg het aansoeke van voormalige president Jacob Zuma en die Franse wapenmaatskappy, Thales, om hul wapentransaksie-korrupsieverhoor te staak, van die hand gewys. Zuma en Thales staan tereg op aanklagte van korrupsie, bedrog, afpersing en geldwassery wat verband hou met die wapentransaksie van 1999 van multimiljard-rand. Regter Nkosinathi Chili het in sy uitspraak bevind dat die vertragings in die saak nie onredelik was nie. Die verhoor sal soos beplan voortgaan:
# Die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein het beslis dat die uitlewering van Ace Magashule se voormalige persoonlike assistent, Moroadi Cholota, onwettig was, en dat die hof geen jurisdiksie het om haar te verhoor in die asbesdak-korrupsiesaak nie. Regter Philip Loubser het bevind dat die Staat die Amerikaanse owerhede mislei het, en Cholota valslik uitgebeeld het as ‘n voortvlugtige. Die regter het benadruk dat slegs die minister van justisie, en nie die Nasionale Vervolgingsgesag nie, regtens kan aansoek doen om uitlewering.
# Die Portugese polisie het ‘n nuwe ondersoek begin naby waar die Britse kleuter Madeleine McCann in 2007 verdwyn het. Die destydse driejarige Madeleine het vermis geraak uit ‘n woonstel by die kusoord Praia da Luz in die suide van Portugal toe sy saam met haar familie op vakansie was. ‘n Internasionale veldtog is begin en het ongekende mediadekking veroorsaak. Polisievoertuie is vandag op ‘n grondpad gesien wat deur beamptes bewaak word. Die nuwe soektogte word op versoek van Duitse owerhede uitgevoer wat ‘n veroordeelde verkragter, Christian Brueckner, wat van Madeleine se moord verdink word, ondersoek.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Erik van Rooyen het sy plek bespreek in die 125ste Amerikaanse Ope wat volgende week by die Oakmont-buiteklub plaasvind. Die 35-jarige speler het rondes van 64 en 67 voltooi om op 13 onder 131 eerste klaar te maak by ‘n kwalifiserende toernooi by die Kinsale-gholfklub in Columbus, Ohio. Van Rooyen, ʼn tweemalige PGA-wenner, het nie die laaste drie Amerikaanse Opes gehaal nie. Die Amerikaners Rickie Fowler en Max Homa het nie vir die major gekwalifiseer nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-39-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-355-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-357-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-50-sent per vat.
# En laastens, Adolescence van Netflix het drie van die vier kategorieë waarvoor dit by die tweede jaarlikse Gotham-televisietoekennings in New York benoem is, gewen. Die reeks van vier episodes oor ʼn tienerseun wat van moord beskuldig word, het die deurbraakprys vir ʼn beperkte reeks, hoofrol in ʼn beperkte reeks vir Stephen Graham, en ʼn gedeelde prys vir beste byspeler in ʼn beperkte reeks vir Owen Cooper gewen. Fantasmas‘ se Julio Torres is die beste hoofspeler in ʼn komediereeks. Die beste deurbraak-komediereeks is The Studio, terwyl The Pitt die beste dramareeks is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….