Nuus 14:00
BULLETIN 2 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Macpherson ontvang die finale verslag oor die George-bouramp
# ACS verwelkom die goedkeuring van dringende sekerheidsopgraderings by lughawens
# En, Rusland en Oekraïne vergader in Istanbul om planne te bespreek oor hoe om die oorlog te beëindig
# Die Raad vir die Bou-omgewing het sy finale verslag oor die gebou wat in Mei verlede jaar in George ineengestort het, aan die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, oorhandig. Die tragedie het die lewens van 34 mense geëis, en 28 ander is beseer. Die verslag is van kritieke belang vir die Departement, wat onderneem het om die presiese oorsaak van die ramp – wat as voorkombaar beskou word – vas te stel. Die minister sê sy departement sal die verslag noukeurig bestudeer om ‘n strategie vir die toekoms te ontwikkel wat soortgelyke tragedies kan voorkom.
# Aviation Co-ordination Services het die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid se goedkeuring om vier kritieke bagasie-ondersoekeenhede by OR Tambo en King Shaka Internasionale Lughawens te vervang, verwelkom. Dit volg op ‘n uitspraak van die Johannesburgse Hooggeregshof wat die dringende opgraderings verpligtend maak te midde van kommer oor verouderderde toerusting. Die uitvoerende hoof van ACS, Duke Phahla, sê die goedgekeurde vervangings is daarop gemik om passasiersveiligheid en bedryfskontinuïteit te verseker. Hy het die belangrikheid van ononderbroke sekerheidsbedrywighede beklemtoon:
# Russiese en Oekraïense amptenare sal vandag in Istanbul vergader om planne uit te ruil oor hoe om die drie jaar lange oorlog, Europa se grootste sedert die Tweede Wêreldoorlog, te beëindig. Dit volg nadat Kiëf gesê het hy het een van sy suksesvolste aanvalle uitgevoer toe hy bomwerpers by lugmagbasisse in Rusland getref het. Die Amerikaanse president Donald Trump, het Moskou en Kiëf aangespoor om vir die eerste keer sedert kort nadat die inval begin het, direk met mekaar te onderhandel. daar is egter nog nie noemenswaardige vordering gemaak oor ‘n ooreenkoms nie.
# Krieket: Suid-Afrika het volgens berigte die voormalige Engelse snelbouler, Stuart Broad, as konsultant aangestel voor die Wêreldtoetskampioenskap-eindstryd, wat volgende Woensdag op Lord’s teen Australië begin. Die 38-jarige Broad sal glo volgende Maandag ‘n oefensessie van die Proteas bywoon, waar hy snelboulers soos Kagiso Rabada, Lungi Ngidi en Marco Jansen onder hande sal neem. Die Proteas kom môre as deel van hul voorbereiding vir die eindstryd teen Zimbabwe te staan in Sussex.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 24-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-372-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-345-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-84-sent per vat.
# En laastens, die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke het sy meegevoel betuig na die dood van die uitvoerende hoof van die Groter Kruger Omgewingsbeskermingstigting, Sharon Haussmann. Die woordvoerder van SANParke, JP Louw, sê Haussmann se dood kom op ‘n kritieke stadium in die geskiedenis van bewaring in Suid-Afrika, met SANParke wat met Visie 2040 ‘n nuwe strategiese rigting inslaan. Die plaas samewerking, volhoubaarheid en inklusiewe bewaring as die middelpunt van veerkragtige beskermde gebiede:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….