Nuus 14:00
BULLETIN 30 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Olorato Mongale se ma onverstoord na die dood van ‘n verdagte
# Die Staatsdiensvakbond verwelkom ‘n besluit om die Padongelukkefonds-hoof op spesiale verlof te plaas
# En, ‘n Switserse vallei word bedreig deur ‘n vloed na ‘n gletser dit verswelg het
# Olorato Mongale se ma, Keabetswe Mongale, sy is nie geraak deur die noodlottige skietvoorval waain haar dogter se beweerde moordenaar dood is nie. Die polisie het Philangenkosi Makhanya in Amanzimtoti, KwaZulu-Natal doodgeskiet na hy na bewering op hulle losgebrand het. Die KZN-polisiekommisaris Nhlanhla Mkwanazi, het bevestig die ma van nog ‘n verdagte word ondervra na sy hom glo vooraf gewaarsku het. Olorato, ‘n enigste kind, word die naweek begrawe. Haar ma het aan Newzroom Afrika gesê sy soek steeds antwoorde:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê hulle is tevrede dat die raad van die Padongelukkefonds ‘n daadwerklike besluit geneem het om uitvoerende hoof, Collins Letsoalo, op spesiale verlof te plaas as ‘n voorsorgmaatreël totdat ‘n ondersoek voltooi is. ‘n Woordvoerder van die vakbond, Claude Naiker, sê hulle het voorheen die skorsing van Letsoalo versoek na aanleiding van ontstellende onthullings oor ‘n huurskandaal van 79-miljoen-rand. Hy sê hulle verwelkom die besluit en sal voortgaan om wanadministrasie en korrupsie by staatsentiteite te veroordeel:
# Water wat agter ‘n massa gletserpuin vasgevang was het hierdie week ‘n dorp en ‘n rivier in die suide van Switserland verswelg. Dit het gelei tot waarskuwings oor moontlike verdere ontruimings te midde van ‘n gevaar van oorstromings in die Alpynse vallei. Miljoene kubieke meter ys, modder en rotse het Woensdag teen ‘n berg afgestort en die dorp Blatten onder puin gedompel en enkele huise wat nie onmiddellik geraak is nie, het ook later oorstroom. Die 300 inwoners is vroeër in Mei ontruim nadat ‘n deel van die berg agter die Birch-gletser begin verkrummel het.
# Sokker: Alhoewel die Kampioenliga-eindstryd tussen Paris Saint-Germain en Inter Milan môre in München, Duitsland, plaasvind, word duisende polisielede in Parys ontplooi. Baie van die vyf-duisend-400 beamptes sal op die Franse hoofstad se Champs-Élysées en rondom PSG se tuisstadion Parc des Princes aan die suidwestelike rand van die stad ontplooi word. Die wedstryd is die hoogtepunt van die Europese seisoen. Ten spyte van enorme uitgawes het PSG nog nooit die glansrykste prys in Europese klubsokker gewen nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-658-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-296-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-69-sent per vat.
# En laastens, die Standard Bank Joy of Jazz het die kunstenaars van sy driedaagse fees aangekondig. Die sterbelaaide program sluit in die Grammy-wenner Esperanza Spalding, die Suid-Afrikaanse pianis Thandi Ntuli, die Afro-popsensasie Tresor, en die hoog aangeskrewe Ababhemu-kwartet. Meer as 50 kunstenaars sal op vier verhoë deelneem aan die fees in sy 26ste jaar met onverbeterlike vertonings van jazz-uitnemendheid, kultuur-samesmelting en musikale vernuwing. Die jazz-sterre gaan gehore van 26 tot 28 September by die Sandton Internasionale Konvensiesentrum in Johannesburg betower.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….