Nuus 14:00
BULLETIN 18 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA dien ‘n mosie in vir ‘n komitee om die sekretaris van die Parlement se salarisverhoging te ondersoek
# Die IVP beklemtoon koalisie-samewerking
# En, sokker: ‘n Italiaanse hof beveel Juventus om Ronaldo 196-miljoen-rand se uitstaande salaris te betaal
# Die DA het ‘n mosie ingedien vir ‘n ad hoc gesamentlike komitee om die verhoogde salaris van die sekretaris van die Palement, Xolile George, te ondersoek. Dit volg op onthullings van ‘n verhoging van 70-persent, na bewering goedgekeur deur die speaker van die Nasionale Vergadering en die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies. Siviwe Gwarube van die DA beklemtoon deursigtigheid en aanspreeklikheid in die bestuur van staatsfondse:
# Die IVP is gewillig om saam te werk met politieke partye wat sy siening deel. Die adjunkpresident, Inkosi Mzamo Buthelezi, het tydens ‘n politieke debat by die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap, die behoefte aan duidelike wetgewing en riglyne vir doeltreffende bestuur beklemtoon. Hy glo eenheid in bestuur bevorder ontwikkeling en hy moedig koalisie-regerings aan om te fokus op die bevordering van hul agenda ter verbetering van die samelewing:
# Die senior ekonoom van FNB, Koketso Mano, sê stygende spanning in die Midde-Ooste kan die olie-voorraad beperk, en hou ‘n risiko in vir brandstof- en logistieke koste. Die rand word ook negatief geraak deur strenger monetêre beleidsretoriek in Amerika. Dié faktore kan inflasie hardkoppiger laat bly as wat verwag is. Mano sê gevolglik kan rentekoerse langer op huidige vlakke bly:
# Sokker: ‘n Hof in Italië het Juventus opdrag gegee om sy voormalige speler Cristiano Ronaldo 196-miljoen-rand te betaal vir salaris wat hulle hom skuld. Portugal se kaptein het ingestem om sy salaris uit te stel toe die sport in die 2020/21-seisoen weens die Covid-19-pandemie stopgesit is. Hy het aanvanklik 404-miljoen-rand geëis. Die hof het bevind hy behoort betaal te word wat hy sou ontvang het na aftrekkings. Ronaldo is in 2021 weg by Juventus na drie seisoene waarin hulle twee Serie A-titels gewen het. Hy speel tans vir Al Nassr in Saoedi-Arabië.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-556-dollar-76-sent. Die prys van goud is twee-duisend-380-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-46-sent per vat.
# En ten slotte, die Instituut vir Afvalbestuur van Suider-Afrika vra besliste optrede teen plastiekbesoedeling voor Wêreld-Aardedag, met die tema Planeet versus Plastiek. Die president van die organisasie, Mpendulo Ginindza, beklemtoon Suid-Afrika se liniêre plastiek-ekonomie, wat tot omgewingskade lei. Ginindza wys op die instituut se pogings om bewustheid te skep, skoonmaak-operasies te organiseer en volhoubare oplossings te bevorder. Die instituut soek nou vennootskappe om die natuurlewe en ekostelsels te beskerm met die doel om plastiekbesoedeling teen 2040 met 60-persent te verminder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….