Nuus 14:00
BULLETIN 27 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa loof die infrastruktuursimposium as ‘n toegangspoort tot groei
# Musk se Starship-megavuurpyl word vanaand gelanseer
# En Mej Wêreld Suid-Afrika wen ‘n internasionale modeprys op die Mej Wêreld-kompetisie
# President Cyril Ramaphosa het die simposium oor Volhoubare Infrastruktuurontwikkeling in Kaapstad geloof as ‘n toegangspoort tot eindelose geleenthede. Hy het teenoor afgevaardigdes die belangrike rol van infrastruktuur beklemtoon in die bevordering van ekonomiese groei deur belegging, maatskaplike vooruitgang en werkskepping in Suid-Afrika. Ramaphosa het infrastruktuur die dryfveer van die ekonomie genoem, noodsaaklik vir die opheffing van gemeenskappe en die verbetering van burgers se lewens deur volhoubare en inklusiewe ontwikkeling:
# Die minister van Kommunikasie en Tegnologie, Solly Malatsi, het aantygings verwerp dat die voorgestelde wysigings aan swart ekonomiese bemagtigings-regulasies in die inligtings- en kommunikasiesektor daarop gemik is om die sakemagnaat Elon Musk se satelliet-maatskappy, Starlink, te bevoordeel. Hy het aan die Parlement se portefeuljekomitee oor Kommunikasie gesê die beleidsrigting wil die bedryf se lisensiëringsreëls in ooreenstemming bring met bestaande sektor-kodes en ekwiteit-ekwivalente beleggingsprogramme toelaat:
SpaceX is intussen gereed om die Starship-mega-vuurpyl op sy volgende toetsvlug te stuur. Die vuurpyl is die spil waarom Musk se Mars-planne draai, met die laaste twee lanserings wat ontplof het. Daar is vanaand ‘n lanseervenster oop by SpaceX se Starbase-aanleg in Texas. Starship, met ‘n hoogte van 123-meter, is die grootste en kragtigste lanseervuurpyl ooit. Musk hoop om daarmee die mensdom in staat te stel om op veelvuldige planete te woon. NASA maak intussen staat op ‘n Starship-variant om ‘n Amerikaanse bemanning veilig maan toe en terug te stuur.
# Sokker: Real Madrid se nuwe afrigter, Xabi Alonso, het beloof om groot dinge te doen wat die Spaanse reuse waardig is. Hy glo hy het die energie en opwinding daarvoor. Die 43-jarige voormalige Spaanse speler is aangekondig as Carlo Ancelotti se opvolger nadat die Italianer aangestel is as Brasilië se nasionale breier. Alonso neem die leisels oor voor volgende maand se Klub-Wêreldbekertoernooi in Amerika. Real kon nie hierdie seisoen ‘n groot trofee wen nie. Alonso sê hulle het fantastiese spelers wat ‘n baie goeie toekoms kan verseker.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 24-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-861-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-295-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-21-sent per vat.
# En laastens, Mej Wêreld Suid-Afrika, Zoalize Jansen van Rensburg, het die gesogte Wêreldontwerpers-toekenning gewen op die Mej Wêreld 2025-geleentheid in Hyderabad, Indië. Die plaaslike skoonheid was geklee in ‘n protea-geïnspireerde rok deur die ontwerper Juan William Aria en het die beoordelaars stomgeslaan met ‘n treffende huldeblyk aan Suid-Afrika se flora en eenheid. Die satyn-en-glas-meesterstuk bevat handgeborduurde patrone en pasgemaakte kunswerke. Jansen van Rensburg het haar hartlike dank uitgespreek en noem dit ‘n viering van wie Suid-Afrikaners is. Mej Wêreld se eindronde vind Saterdag plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….