Nuus 14:00
BULLETIN 22 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile skets die padkaart vir digitale transformasie
# ATM sê Godongwana se begroting gee nie aandag aan die behoeftes van die meerderheid nie
# En krieket: Die uitkloprondes van die IPL begin Dinsdag
# Adjunkpresident Paul Mashatile het Suid-Afrika se padkaart vir digitale transformasie uiteengesit. Hy het die Suid-Afrika-Frankryk-beleggingskonferensie in Parys toegespreek en die toenemende belangrikheid van digitale tegnologieë vir ekonomiese groei beklemtoon. Mashatile sê Suid-Afrika sal fokus op die ontwikkeling van sleutel-digitale vaardighede soos kunsmatige intelligensie, datawetenskappe en kuberveiligheid:
# Die Africa Transformation Movement sê die begroting wat deur die minister van Finansies, Enoch Godongwana, voorgelê is, gee nie aandag aan die dringende behoeftes van die meerderheid landsburgers nie. Woordvoerder Zama Ntshona, sê hierdie begroting gee voorkeur aan die belange van die regering van nasionale eenheid se vennote en is hoofsaaklik daarop gemik om hul politieke bondgenote te paai eerder as om die welstand van die kwesbaarstes in die samelewing te bevorder:
# Twee gesondheidswerkers is doodgeskiet by die St Elizabeth-hospitaal in Lusikisiki in die Oos-Kaap. Die verpleegkundige en ‘n menslike hulpbronne-bestuurder het by die hospitaal gewerk. Sizwe Kupelo van die provinsiale Gesondheidsdepartement sê besonderhede van die voorval bly onduidelik. Die LUR, Ntandokazi Capa, het haar skok uitgespreek en op ‘n deeglike ondersoek aangedring. Sy het haar meegevoel betuig aan die slagoffers se gesinne en kollegas, en sê die polisie ondersoek die omstandighede wat aanleiding gegee het tot die moorde.
# Die Departement van Gesondheid in Gauteng het die toewysing van 100-miljoen-rand van die Nasionale Tesourie verwelkom om bestaande uitdagings aan te pak. Die geld is ter ondersteuning van die departement se hernude befondsingsprogram om bestaande noodsaaklike toerusting en masjiene in hospitale op te knap en te vervang. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê ‘n waardebepaling is gedoen van die bestaande toerusting en masjiene:
# Krieket: Die laaste groepswedstryd van die Indiese Premierliga word Dinsdag gespeel. Die eerste vier spanne gaan dan deur na die uitklopronde, wat volgende Donderdag begin met die eerste kwalifiseerder tussen die voorste twee spanne. Die wenner dring regstreeks deur na die eindstryd op 3 Junie. Die verloorder wag op die wenner van die elimineerder om te bepaal wie die ander span in die eindstryd sal wees. Die eerste kwalifiseerder en die elimineerder word in Mullanpur gespeel, en Ahmedabad sal die tweede kwalifiseerder en die eindstryd aanbied.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-723-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-304-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….