Nuus 14:00
BULLETIN 20 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Regering sê privaat sektor se hulp om waterkrisis op te los, is nie privatisering nie
# ActionSA Gauteng eis deursigtigheid en aanspreeklikheid vir onderbesteding
# En, Frankryk beplan maksimum-sekerheidstronk in die Amasone-woud
# Die Departement van Water en Sanitasie sê die privaat sektor kan help om Suid-Afrika se munisipale waterkrisis op te los, maar beklemtoon dat dit nie waterprivatisering is nie. Direkteur-generaal Sean Phillips het gesê privaat maatskappye kan help met infrastruktuur, instandhouding en bedrywighede, maar munisipaliteite sal steeds beheer behou. Die Nasionale Agentskap vir Waterhulpbroninfrastruktuur is gestig om beleggings te lok en dienslewering te verbeter. Hierdie stap volg na jare se onderbelegging, wanbestuur en waterverliese wat in sommige gebiede tot 35-persent is.
# ActionSA in Gauteng sê die provinsie se onvermoë om toegekende fondse doeltreffend te gebruik, hou ernstige gevolge in vir inwoners, veral in sektore soos gesondheidsorg, onderwys en infrastruktuurontwikkeling. Die provinsiale regering het aan die einde van die 2024/2025-boekjaar 1,8-miljard-rand aan Nasionale Tesourie teruggegee, hoofsaaklik uit die Onderwys- en Gesondheidsdepartement. ActionSA-woordvoerder Zwelithini Mtshali sê onderbesteding lei tot verminderde of geen dienslewering nie, wat inwoners se lewensgehalte beïnvloed:
# Die Franse minister van Justisie het aangekondig dat die land ’n nuwe maksimum-sekerheidstronk in Frans-Guyana gaan bou om dwelmhandelaars en radikale Islamiete te huisves. Gérald Darmanin het aan ’n Franse koerant gesê die tronk sal georganiseerde misdaad op alle vlakke van die dwelmverskaffingsketting teiken. Die aankondiging volg op ’n reeks gewelddadige voorvalle die afgelope maande waarin tronke en personeel reg oor Frankryk geteiken is. Volgens AFP kan die inrigting vir 500 mense moontlik reeds teen 2028 open in ’n afgeleë gebied diep in die Amasone-woud.
# Tennis: Die Amerikaanse Tennisvereniging sê die Billie Jean King Nasionale Tennissentrum waar die Amerikaanse Ope plaasvind, gaan teen ‘n koste van 14,47-miljard-rand opgeknap word. Dis die grootste enkele belegging in die geskiedenis van die Amerikaanse Ope. Dit sluit in die modernisering van die Arthur Ashe-stadion, ʼn nuwe, hipermoderne spelerprestasiesentrum, en twee nuwe vlakke vir luukse suites. Die bouwerk wat in 2027 voltooi sal wees, sal in drie fases gedoen word sonder om die Amerikaanse Ope van 2025 en 2026 te ontwrig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 24-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-300-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-233-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-86-sent per vat.
# En laastens, die Motorbedryfspersoneelvereniging het 120-duisend-rand aan die Prostaatkankerstigting geskenk om bewusmaking en vroeë opsporing van prostaatkanker te bevorder. MISA, wat meer as 71-duisend lede verteenwoordig, het sy toewyding uitgespreek om gereelde kankertoetsing aan te moedig. Die woordvoerder van die vereniging, Sonja Carstens, sê vroeë opsporing is van kritiese belang, aangesien die meeste gevalle te laat gediagnoseer word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….