Nuus 14:00
BULLETIN 19 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa wys minister Mantashe aan as waarnemende president terwyl hy Amerika besoek
# Twee voetgangers sterf tydens ‘n betoging in Diepkloof, Soweto
# En basketbal: Pretoria bied volgende maand die eindtoernooi van die Afrika-liga aan
# President Cyril Ramaphosa het die minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe, as waarnemende president aangewys tot Donderdag. Ramaphosa en ‘n afvaardiging is op pad na Amerika, waar hy Woensdag met president Donald Trump in die Withuis sal vergader om globale en bilaterale kwessies te bespreek. Dit volg op Trump se bewerings oor grondbesettings en die behandeling van Afrikaners, en sy aanbod om hulle in Amerika te hervestig.
Adjunkpresident Paul Mashatile is op ‘n amptelike besoek aan Frankryk om bande tussen die twee lande te versterk. Die besoek se fokus is op die bevordering van handel en belegging ná onlangse diplomatieke beraadslaging deur die minister van Internasionale Betrekkinge, Ronald Lamola. Mashatile sal die SA-Frankryk-beleggingskonferensie bywoon en die Franse president, Emmanuel Macron, ontmoet. Frankryk het sedert 2018 meer as 70-miljard-rand in Suid-Afrika belê deur byna 400 maatskappye in belangrike sektore.
# Twee mense is dood en een beseer nadat ’n vragmotor wat die toneel van ’n betoging genader het, voetgangers getref het in Diepkloof, Soweto. Inwoners van die Diepkloof-hostel eis grond en ontwikkeling, asook water- en sanitasie-infrastruktuur. Polisiewoordvoerder Mavela Masondo sê een persoon is in die hospitaal opgeneem, en die polisie ondersoek ’n saak van openbare geweldpleging:
# Basketbal: Gauteng se Toerisme-owerheid sê die aanbieding van vanjaar se Afrika-liga-eindtoernooi sal ‘n hupstoot wees vir toerisme en Pretoria se ekonomie bevoordeel. Die geleentheid in die SunBet-arena van ses tot 14 Junie sal na verwagting duisende plaaslike en internasionale besoekers lok. Ondersteunersones, kulturele uitstallings en bedrywighede vir die jeug sal aangebied word. Amptenare hoop die toernooi – ‘n eerste vir Suid-Afrika – sal Gauteng as primêre bestemming vir internasionale sportbyeenkomste vestig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-60-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-240-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-2-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê twee frontale stelsels word hierdie week oor die land verwag. ‘n Kouefront sal vandag die kus aan die suidwestelike deel van die land bereik, wat nat, koue en winderige toestande oor die westelike dele van die Wes-Kaap sal meebring. ‘n Weervoorspeller, Lehlohonolo Thobela, sê die nat en koue toestande sal môre versprei en die Namakwa-distrik van die Noord-Kaap, en die Oos-Kaap beïnvloed:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….