Nuus 14:00
BULLETIN 16 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement ondervra die NVG oor Omotoso se vryspraak
# Die Finansiële Intelligensiesentrum tree streng op teen eiendomsagente en prokureurs te midde van druk oor gryslys
# En krieket: Reuse-prysgeld is op die spel in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap
# Die Parlement se komitee vir Justisie en Grondwetlike Sake het die Nasionale Vervolgingsgesag ondervra oor die hantering van die saak teen die Nigeriese tele-evangelis Timothy Omotoso. Die komitee is bekommerd omdat hy en sy medebeskuldigdes onskuldig bevind is op 32 aanklagte, insluitend verkragting en mensehandel, ná ‘n verhoor wat jare-lank voortgesleep het. Die komitee het verskeie kwessies uitgelig, insluitend onvoldoende kruisondervraging. Die NVG se hoof, Shamila Batohi, erken die tekortkominge en het moontlike regsfoute in die verhoor aangehaal:
# Die Finansiële Intelligensiesentrum het ondersoeke verskerp en opgetree teen eiendomsagente en regspraktisyns wat versuim om verpligte risiko- en nakomingsverslae in te dien. Hierdie sektore is van die laaste struikelblokke wat Suid-Afrika se verwydering van die Finansiële Aksietaakspan se gryslys verhoed. Hoewel nakomingsvlakke tot ongeveer 70-persent verbeter het, dring die sentrum aan op feitlik-volledige nakoming. Instellings wat nie voldoen nie, kan boetes van tussen tien-duisend- en 50-duisend-rand kry. Die sentrum beklemtoon dat volle nakoming van uiterste belang is om risikobepaling te verbeter en onttrekking van die gryslys te vergemaklik.
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het ’n onvoorwaardelike openbare verskoning van die voormalige DA-parlementslid Renaldo Gouws verwelkom oor ’n video van 2010 wat rassistiese taal teen swart burgers bevat het. Wisani Baloyi van die kommissie sê die saak is opgelos deur die liggaam se alternatiewe geskilbeslegtingsproses. Hy sê Gouws het erken dat hy skade berokken het, en het onderneem om deel te neem aan die kommissie se slypskole en bewusmakingsprogramme:
# Krieket: Daar is meer as net roem op die spel in volgende maand se eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap tussen Suid-Afrika en Australië in Londen. Die Internasionale Krieketraad het ’n groot verhoging in prysgeld aangekondig: die wenspan sal meer as 65-miljoen-rand ontvang en die verloorspan byna 38-miljoen-rand – meer as wat Australië twee jaar gelede as kampioen ontvang het. Die IKR sê die verhoging wys dat hulle probeer om voorkeur te gee aan die langste formaat van die spel. Die wedstryd word vanaf 11 Junie op Lord’s gespeel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-812-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-202-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-23-sent per vat.
# En ten slotte: Die gewilde Swingin’ Las Vegas keer van vandag tot 25 Mei op aanvraag terug na die Teatro, Montecasino in Johannesburg vir slegs agt vertonings. Die Johannesburgse Big Band van agtien lede, tesame met die sangers Craig Urbani, Timothy Moloi, Harry Sideropoulos en Nádine, sal gehore op ’n musikale reis van betowerende herinneringe deur die lewe en tye van Las Vegas neem. Gehore kan die tydlose musiek van Frank Sinatra, Nat King Cole, Ella Fitzgerald, Céline Dion, Robbie Williams en meer verwag. Kaartjies kos tussen 240- en 440-rand per persoon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….