Nuus 14:00
BULLETIN 15 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet verwerp Amerikaanse vlugtelingstatus vir Afrikaners
# Amerikaanse agentskappe word glo verbied om aan die G20-beraad in Suid-Afrika deel te neem
# En rugby: Ierland se mans-sewespan gaan ontbind
# Die kabinet kritiseer Amerika se besluit om vlugtelingstatus aan sommige Afrikaners toe te ken en noem bewerings van vervolging ongegrond en misleidend. Die kabinet is van mening hierdie besluit ondermyn Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie en is ‘n wanvoorstelling van die land se menseregterekord. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het op ‘n nuuskonferensie gesê die regering sal met diplomatieke kanale skakel om die Amerikaanse besluit te betwis:
Die Amerikaanse president, Donald Trump, het Amerikaanse agentskappe intussen glo verbied om aan die G20-beraad in Suid-Afrika deel te neem. Volgens Washington Post het die Withuis se Nasionale Veiligheidsraad die opskorting gelas, met verwysing na beweerde volksmoord en grondonteieningswette. Trump en sy minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het gedreig om die beraad te boikot en sodoende druk geplaas op president Cyril Ramaphosa voor volgende week se besoek aan Washington. Die Withuis en die Departement van Buitelandse Sake het nog nie die beweerde verbod amptelik bevestig nie.
# Suid-Afrika se handelstoestande het veerkragtigheid getoon in Maart en April, ondanks ekonomiese druk. Die jongste opname van die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid toon ‘n effense daling in April, met 49-persent van die deelnemers wat positiewe handel aangeteken het teenoor 55-persent in Maart. Seisoenale aanpassings toon ‘n afname van vyf-persent, maar 69-persent verwag ‘n verbetering oor ses maande. Inflasie het afgeneem en vertroue het verhoog, voertuig- en kleinhandelverkope het gestyg, maar uitvoere en toerisme het afgeneem. Werksgeleenthede het bestendig gebly met meer aanstellings as wat verwag is.
# Die SABC het 7,5-miljard-rand nodig om sy openbare mandaat te finansier en waarsku sy huidige model is onvolhoubaar. Uitvoerende hoof Nomsa Chabeli het ‘n verlies van 700-miljoen-rand vir die 2023/24-boekjaar aangekondig in ‘n voorlegging aan die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge. Sy het beklemtoon dat die uitsaaier self-befonds word en het aangedring op die finalisering van die Wetsontwerp op die SABC. Chabeli het die noodsaaklikheid van staatsteun beklemtoon om die lewensvatbaarheid van die uitsaaier te verseker en om sy openbare verpligtinge na te kom:
# Rugby: Die Ierse Rugbyvoetbalunie het besluit om die mans se sewespan aan die einde van die 2024/25-seisoen te ontbind. Hy sê dis deel van ‘n groter strategie om in die lang termyn finansiële volhoubaarheid te verseker. Die unie se hoëprestasie-direkteur, David Humphreys, sê sy interne hersiening het ook bevind die mans-sewesprogram dra nie regtig by tot die ontwikkeling van die 15-speler-formaat nie. Die span het sy laaste toernooi vroeër die maand in Los Angeles gespeel en elfde geëindig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-39-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-931-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-176-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….