Nuus 14:00
BULLETIN 6 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF in Gauteng verwerp die onderhoudsooreenkoms tussen Tshwane en AfriForum
# Vyf mans wat aangekla word van die moord op AKA en verskyn weer in die hof
# En, Suid-Afrika se opkikker-laboratorium is vol vertroue dat hy sy WADA-akkreditasie sal herwin
# Die EFF in Gauteng sê hy verwerp, wat hy noem, die geheime ooreenkoms wat deur die DA-geleide regering in Tshwane bemiddel is en ‘n vennootskap met AfriForum wil vestig. Die ondersteuningsgroep sal die metro bystaan met kwessies soos instandhouding en gemeenskapsveiligheid. Die EFF se woordvoerder, Naledi Chirwa-Mpungose, sê die DA se optrede beklemtoon nie net hul mislukking om Tshwane te regeer nie, maar toon ook hul ingewortelde rassistiese karakter as ‘n party:
# Vyf mans wat beskuldig word van die moord op Kiernan “AKA” Forbes en Tebello “Tibz” Motsoane, het vandag die tweede keer in die Durbanse Landdroshof verskyn. Die mans staan tereg op aanklagte van onder meer moord, sameswering om moord te pleeg en die onwettige besit van vuurwapens. Die Nasionale Vervolgingsgesag in KwaZulu-Natal se woordvoerder, Natasha Ramkisson-Kara, sê die staat het ook aanklagte van geldwassery bygevoeg:
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die regering verwelkom Statistieke Suid-Afrika se bekendmaking van die jongste syfers vir die bruto binnelandse produk. Daar is ‘n effense groei van 0,1-persent in die vierde kwartaal van 2023, wat die minister sê dui op veerkragtigheid en geleidelike ekonomiese herstel te midde van voortgesette uitdagings. Regeringswoordvoerder, Nomonde Mnukwa, sê hierdie groei is veral bemoedigend omdat dit voor-pandemievlakke oortref:
# Die Suid-Afrikaanse Opkikkerbeheer-laboratorium in Bloemfontein is vol vertroue dat hy sy akkreditasie van die Wêreld-Opkikkerbeheeragentskap sal terugkry. Die instelling, wat Afrika se enigste geakkrediteerde toetslaboratorium is, se akkreditasie is vir ses maande opgeskort, omdat hy nie aan die Internasionale Standaard vir Laboratoriums voldoen nie. Die Universiteit van die Vrystaat, wat die laboratorium huisves, sê die regstellings sal gedoen word soos WADA vereis, en sal binne die opskortingstydperk afgehandel wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-295-dollar-32-sent. Die prys van goud is twee-duisend-129-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-68-sent per vat.
# En, die Wes-Kaapse LUR vir Beweeglikheid, Ricardo Mackenzie, ontmoet vandag werksoekers van Strandfontein in Kaapstad wat voordeel trek uit die Kry jou by die Werk-reisbewys. Die veldtog beteken werksoekers wat die Golden Arrow-busdiens gebruik, kan gratis reis as hulle vir ‘n werksonderhoud gaan. Mackenzie sê werklose mense het eenvoudig nie geld vir vervoer nie, wat dit moeilik maak om werk te soek en vir onderhoude te gaan. Hy sê die gratis reisbewys, wat 12 ritte insluit, verwyder hierdie eerste hekkie en help werksoekers om die werk te kry wat hulle so dringend nodig het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….