Nuus 14:00
BULLETIN 14 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbalula sê Ramaphosa se komende besoek aan Amerika sal misverstande oor volksmoord ontlont
# Die bloedigste gevegte in jare skud die Libiese hoofstad Tripoli vir ‘n tweede nag
# En tennis: Djokovic is sonder ’n afrigter terwyl hy voorberei vir die Franse Ope
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê president Cyril Ramaphosa se beplande werksbesoek aan Amerika sal die bewerings van volksmoord teen wit Afrikaners ontlont. Hy het aan die kantlyn van die ANC se Duma Nokwe-gedenklesing in Sedibeng in Gauteng teenoor SABC News beklemtoon dat die besoek Suid-Afrika se soewereiniteit sal toon en hopelik betrekkinge tussen die twee lande sal herstel:
# Die DA sê vandag se gesamentlike parlementêre sitting tussen die portefeuljekomitees op Landbou en die Polisie is ’n deurslaggewende stap om landelike en plaasveiligheid aan te pak. Die party dring ook aan op geteikende optrede om veediefstal te bekamp, wat die landbousektor jaarliks meer as drie-miljard-rand kos. Willie Aucamp van die DA sê beter samewerking tussen die polisie en die landbousektor is van kardinale belang om boere, werkers en voedselsekerheid te beskerm:
# Die staatsbeheerde verdedigingsgroep Denel het sy waarnemende finansiële hoof, Thandeka Sabela, weer aangestel nadat ‘n onafhanklike ondersoek haar vrygespreek het van alle aanklagte teen haar. Sy is verlede jaar as voorsorgmaatreël geskors. Denel het Sabela se terugkeer bevestig as deel van sy leierskapspan en haar rol in die organisasie se groei en die lewering van verdedigings- en tegnologie-oplossings herbevestig. Sabela het in 2015 by Denel aangesluit en is in Maart 2021 as die waarnemende finansiële hoof aangestel. Haar terugkeer volg te midde van Denel se breër pogings om bedrywighede te bestendig en bestuur te verbeter.
# Die bloedigste gevegte in jare het die Libiese hoofstad Tripoli vir ‘n tweede nag geskud. Reuters berig dit volg na Maandag se dood van ‘n belangrike burgermagleier wat gevegte tussen mededingende faksies ontketen het. Die Verenigde Nasies se plaaslike sending, UNSMIL, sê hy is diep bekommerd oor die verergerende geweld in digbewoonde woonbuurte, en vra dringend vir ‘n wapenstilstand. Die jongste gevegte kan klaarblyklik die mag van die premier van die verdeelde land se regering van nasionale eenheid, Abdulhamid al-Dbeibah, konsolideer. Hy is ‘n bondgenoot van Turkye.
# Tennis: Die driemalige kampioen Novak Djokovic is sonder ’n afrigter terwyl hy voorberei vir die Franse Ope. Die Serwiër, wat nog 21 Grand Slam-toernooie gewen het, het die vertrek van nog ‘n gewese wêreld-nommer-een, Andy Murray van Skotland, uit sy span aangekondig. Murray het vir ‘n onbepaalde tyd by Djokovic aangesluit voor vanjaar se Australiese Ope in Januarie, maar het bevestig dat hul ooreenkoms beëindig is. Djokovic speel volgende week in die Geneefse Ope voor die kleibaan-Grand Slam-toernooi volgende Sondag op Roland Garros in Parys begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 24-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-610-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-233-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….