Nuus 14:00
BULLETIN 12 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tiger Brands bied ‘n skikking vir sekere eisers in listeriose-groepsgeding
# OUTA waarsku die krisis met die rybewyskaart-drukker is steeds nie verby nie
# En Amerika en China kom ooreen om omstrede heffings tydelik te verlaag
# Tiger Brands het bevestig dat die prokureurs wat hul hoof-herversekeraar verteenwoordig, ’n skikkingsaanbod aan eisers se regsverteenwoordigers voorgelê het as deel van ’n moontlike algehele oplossing vir die listeriose-groepsgeding. Een-duisend-en-sestig gevalle van listeriose is tussen Januarie 2017 en Julie 2018 aangemeld. Tiger Brands sê hulle bied betalings aan vir eisers wat listeriose opgedoen het wat deur ST6 veroorsaak is, vir afhanklikes van broodwinners wat aan ST6-verwante listeriose oorlede is, en vir eisers wie se afhanklikes wat onder hul sorg was, listeriose opgedoen het wat deur ST6 veroorsaak is.
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het gewaarsku teen die implementering van ’n welvaartbelasting en gesê Suid-Afrika kan sewe miljard rand in jaarlikse inkomstebelasting verloor. Godongwana sê ongeveer twee-duisend-850 individue met ’n hoë netto waarde, wat elk oor meer as vyftig miljoen rand in bates beskik, dra aansienlik by tot die land se inkomste. Hy beklemtoon dat die instel van so ’n belasting hierdie belastingbetalers moontlik kan aanmoedig om te verhuis, wat die belastingbasis kan ondermyn. Hy pleit eerder vir alternatiewe maatreëls om inkomste te verhoog sonder die risiko van kapitaalontvlugting.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die rybewyskaart-krisis is nog lank nie verby nie, al is die ou drukker herstel. Die organisasie waarsku dat die 27-jaar-oue masjien gereeld breek, nie oor moderne sekerheids-kenmerke beskik nie en dringend vervang moet word. Stefanie Fick van OUTA sê daar is steeds ’n tans ‘n agterstand van meer as 747-duisend kaarte, en bekommernis bly voortduur oor ’n tender van 900-miljoen rand aan die Franse maatskappy IDEMIA wat die Ouditeur-Generaal as onreëlmatig bevind het:
# Die Verenigde State en China het ooreengekom om hul omstrede tariewe tydelik te sny, met Amerika se koers wat tot 30-persent verlaag word en Chinese tariewe tot 10-persent. Die Amerikaanse minister van Finansies, Scott Bessent, en die handelsverteenwoordiger, Jamieson Greer, het ná handelsgesprekke in Genève aan verslaggewers gesê die partye het ooreengekom om wedersydse tariewe vir ‘n tydperk van 90-dae met 115-persentasiepunte te sny.
# Sokker: Manchester United se hoofafrigter, Ruben Amorim, het voorgestel dat hy vervang word indien hy nie volgende seisoen die klub se kultuur kan verander nie. Die Reds het gisteraand hulle Premierligawedstryd teen West Ham op Old Trafford 2-0 verloor. Hulle staan op 39 punte en is 16de op die punteleer, en is onderweg na hulle ergste vertoning sedert hulle relegasieveldtog in 1930/31. Amorim sê hy is verleë oor sy span se vertoning in die kompetisie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-250-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-214-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….