Nuus 14:00
BULLETIN 9 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Amerikaanse media berig die eerste wit Suid-Afrikaners word binne ‘n paar dae verwag
# Die polisie soek na twee studente van die Universiteit van Johannesburg na die moord op ‘n leerder van Soweto
# En krieket: Die Indiese Premiersliga word onbepaald uitgestel weens die spanning tussen Indië en Pakistan
# Die Amerikaanse media berig president Donald Trump se administrasie beplan om volgende week die eerste groep wit Suid-Afrikaners te hervestig. Die Amerikaanse ondersoekende nuusagentskap, The Lever, het eerste berig oor die vestigingsplan en ‘n dokument van 30 April aangehaal waarin gesê word Suid-Afrikaners is geskeduleer om binne ‘n paar dae daar te wees. Volgens The Lever is daar planne om vanjaar tot ‘n duisend Afrikaners te hervestig. Die agentskap het ook ‘n regeringsbron aangehaal. National Public Radio en die New York Times het gesê die groep sal Maandag aankom, afhangend van logistieke reëlings.
# ActionSA se leier, Herman Mashaba, het tydens die nasionale dialoog voorgestel dat swart ekonomiese bemagtiging vervang word met ‘n Wet op Inklusiewe Ekonomiese Bemagtiging. Hy het by die Apartheidsmuseum in Johannesburg planne aangekondig vir ‘n Geleentheidsfonds, wat deur ’n winsheffing van vyf persent op maatskappye befonds sal word. Hy sê die fonds sal onderwys, infrastruktuur en entrepreneurskap in arm gemeenskappe bevorder, en ongelykheid aanpak deur praktiese, inklusiewe ekonomiese hervormings:
# Die Gautengse polisie is op soek na twee studente van die Universiteit van Johannesburg se kampus in Soweto in verband met die moord op die 18-jarige Cebo Biyela. Twee ander studente is reeds in hegtenis geneem en sal na verwagting binnekort in die Landdroshof in Lenasia verskyn. Die graad 10-leerder van Musi High School is na bewering met ‘n bofbalkolf aangeval en met ‘n stukkende bottel gesteek tydens ‘n onderonsie met die studente. Die universiteit veroordeel die geweld, terwyl Cebo se gesin geregtigheid eis.
# Krieket: Die Indiese Premierliga is vir ‘n onbepaalde tyd opgeskort weens die dodelike militêre konflik tussen Indië en Pakistan. Die besluit is geneem nadat ’n wedstryd gister in Dharamsala gestaak is – minder as 200-kilometer van die noordelike stad Jammu waar ontploffings ure tevore aangemeld is. Indië het vandag op die derde dag van vyandighede gesê dat hy oornag ’n vlaag Pakistanse hommeltuig- en artillerie-aanvalle afgeweer het. Die owerhede in Pakistan het meer burgerlike sterftes aangemeld. Pakistan het vroeër die oorblywende wedstryde van sy T20-liga na die Verenigde Arabiese Emirate verskuif.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-16-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-328-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-80-sent per vat.
# En laastens, die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ’n geel vlak-vier waarskuwing uitgereik vir sterk wind en golwe langs die Wes-Kaapse kus hierdie naweek. Die woordvoerder van die Rampbestuursentrum, Sonica Lategan, sê die wind sal vanaf vanaand tot môreaand toeneem en moontlik skade veroorsaak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….