Nuus 14:00
BULLETIN 8 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zondo bevraagteken die Parlement se pogings om teen korrupsie op te tree
# Moody’s sny Suid-Afrika se groei-voorspelling vir 2025 na 1,5-persent
# En Qatar Airways sluit Starlink se wi-fi in op sy Kaapstadse roete
# Die voormalige hoofregter, Raymond Zondo, het twyfel uitgespreek oor die Parlement se instel van teenkorrupsie-maatreëls ná die aanbevelings van die staatskapingskommissie. Zondo het tydens die 15de Statebond-streekkonferensie vir hoofde van teenkorrupsie-agentskappe in Afrika gevra of die Parlement hervormings ingestel het om toekomstige korrupsie te voorkom. Hy het die behoefte aan sterker toesig- en verantwoordingsmeganismes beklemtoon om ingewortelde korrupsie aan te pak en openbare vertroue in die regering te herstel:
# Moody’s het sy voorspelling vir Suid-Afrika se BBP-groei vir vanjaar afwaarts aangepas na 1,5-persent – ’n afgradering van 0,2-persentasiepunte teenoor Februarie se vooruitskatting van 1,7-persent. Die agentskap verwys na wêreldwye beleidsonsekerheid en toenemende handelspanning. Plaaslike ekonome glo selfs dié vooruitskatting is optimisties, en verwag dat die Nasionale Tesourie die syfers moontlik verder kan verlaag in die begroting. Die afgradering weerspieël voortgesette plaaslike ekonomiese uitdagings en ’n verswakkende wêreldomgewing. Moody’s voorspel dat die wêreldekonomie vanjaar met 1,9-persent sal groei, en volgende jaar met 2,3 persent.
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta sê begrotingsbesnoeiings bly ’n bedreiging vir die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente het in hierdie akademiese jaar beduidend minder finansiële ondersteuning aan privaat diensverskaffers gegee vir studentebehuising. Makaneta doen ’n beroep op die regering om voorkeur te gee aan voldoende befondsing vir studentebehuising sodat studente op hul studies kan fokus sonder die las van onsekerheid rondom behuising:
# Qatar Airways het aangekondig dat een van sy weeklikse vlugte vanaf Doha na Kaapstad vanaf 1 Junie met ‘n Boeing 777 sal wees, wat gratis ultra-vinnige Starlink wi-fi sal insluit. Die lugredery het reeds die wêreld se grootste vloot Starlink-toegeruste 777’s en is ook die eerste om die stelsel op Airbus A350’s aan te bring. Die redery vier sy teenwoordigheid van 20-jaar in Suid-Afrika en sê die stap verdiep sy streeksbande met sjef-werwing, Afrika-geregte en ‘n belegging in Airlink. Hy vlieg tans weekliks na 29 stede in Afrika.
# Sokker: Afrigter Ruben Amorim het beklemtoon dat hy Manchester United se kaptein, Bruno Fernandes, wil behou, ondanks belangstelling uit Saoedi-Arabië. Amorim het die Portugese internasionale speler as een van die wêreld se topspelers beskryf. Die 30-jarige spelskepper het twee doele aangeteken in verlede week se sege van 3-0 oor Athletic Bilboa in die eerste wedstryd van hulle Europaliga-halfeindstryd. Die aanloop tot vandag se tweede wedstryd in Manchester is oorheers deur gerugte dat die Saoediese klub Al-Hilal ’n groot finansiële aanbod vir Fernandes beplan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-832-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-345-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….