Nuus 14:00
BULLETIN 7 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Parlementêre komitee op Polisie kritiseer die onskuldigbevinding van Mashatile se lyfwagte
# Asiatiese aandelemarkte verstewig voor handelsgesprekke tussen China en Amerika
# En sokker: Ronaldo se tienerseun volg in sy voetspore
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor die Polisie het die polisiebestuur gekritiseer oor die onskuldigbevinding van agt BBP-lyfwagte van adjunkpresident Paul Mashatile na die N1-hoofweg-aanranding in 2023. Die beamptes, wat steeds strafregtelik vervolg word vir onder meer aanranding, is elk op borgtog van tien-duisend-rand vrygelaat. Die komitee se voorsitter, Ian Cameron, het aan Newzroom Afrika gesê die besluit is ’n finale belediging vir die slagoffers, en is ’n uiterste mislukking:
# Build One South Africa het president Cyril Ramaphosa versoek om aandag te gee aan hulle groeihandves. Ramaphosa stuur vandag Fase Twee van Operasie Vulindlela van stapel. Die handves stel praktiese oplossings voor om vyf-persent ekonomiese groei te bereik, met die fokus op energie, vervoer, landbou en etiese bestuur. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê die party het opnuut ’n beroep gedoen op die kabinet om dringende hervormingsvoorstelle aan te neem, en vra dapper en meetbare hervorming:
# Die Moral Regeneration Movement veroordeel die beweerde ontklee-deursoekings van vroulike mynwerkers by die Kopanong-goudmyn naby Klerksdorp. Die organisasie bestempel dit as onmenslik en rassisties. Die MRM se sameroeper in Noordwes, pastoor Lesiba Kgwele, het die owerhede versoek om ondersoek in te stel en die ondersoekers aanspreeklik te hou. Hy het verouderde sekerheidspraktyke gekritiseer en versoek moderne, respekvolle deursoekingsmetodes. Die mynwerkersvakbond NUM is besig met regstappe teen die myn oor hierdie bewerings.
# Asiatiese aandele het vandag gestyg nadat China en Amerika gesê het hulle sal die naweek handelsgesprekke voer, wat optimisme aangewakker het dat hierdie supermoondhede hoë tariewe kan terugtrek. Beijing se stappe ter versagting van belangrike monetêre beleidsinstrumente om die wêreld se nommer twee-ekonomie te laat herleef, het hoop onder beleggers versterk nadat hul dronkgeslaan is deur die Amerikaanse president, Donald Trump, se plofbare eerste paar maande aan bewind. Washington het met talle lande gepraat om Trump se omvattende heffings te vermy, met Japan en Suid-Korea wat aan die voorpunt was.
# Sokker: Die Portugese held Cristiano Ronaldo se tienerseun het ‘n kans om sy land se onder 15-span die eerste keer te verteenwoordig. Die 14-jarige Cristiano dos Santos speel ook vir sy pa se Saoedi-Arabiese span, Al-Nassr, nadat hy voorheen ook vir Ronaldo se gewese klubs, Manchester United en Juventus, gespeel het. Die jong Portugese spelers sal later die maand teen Engeland, Griekeland en Japan te staan kom in die Vlatko Markovic-jeugtoernooi in Kroasië. Cristiano Junior is die oudste van sy pa se vyf kinders.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-77-sent teen die euro en 24-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-863-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-388-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….