Nuus 14:00
BULLETIN 6 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA bevraagteken die wettigheid van die nuwe diensbillikheids-teikens
# Aanklagte word teruggetrek teen ‘n Oos-Kaapse ma wat haar dogter se vermeende verkragter vermoor het
# En die Parlement eis geregtigheid oor die instorting van ‘n gebou in George
# Die DA het in die Hooggeregshof in Pretoria aangevoer dat die regering se nuwe diensbillikheids-teikens onregmatig en ongrondwetlik is. Die party glo die Ministerie van Werkskepping en Arbeid het sy mag oorskry deur onbuigsame numeriese teikens te stel sonder voldoende raadpleging. Die DA se regsverteenwoordiger, Ismail Jamie, het aan die hof gesê die teikens neem nie streeks- en sektor-spesifieke werklikhede in ag nie en dit kan die reg op waardigheid en billike arbeidspraktyke skend wat deur die Grondwet beskerm word:
# Die Landdroshof in Lady Frere het aanklagte teruggetrek teen ‘n Oos-Kaapse ma wat beskuldig is van die moord op ‘n 65-jarige man wat na bewering haar gestremde dogter verkrag het. Die voorval het verlede maand in Cacadu plaasgevind. Die premier, Oscar Mabuyane, verwelkom die hof se beslissing en noem dit ‘n saak van verdediging, nie moord nie. Hy prys die ma oor haar beskermende optrede en sê die werklike misdaad was die verkragting, en nie haar reaksie daarop nie.
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Menslike Nedersettings betreur die administratiewe mislukkings by die Nasionale Huisbouersregistrasieraad wat tot die instorting van ‘n gebou in George gelei het. Die voorsitter, Nocks Seabi, het in die Parlement gepraat op die eerste herdenking van die tragedie en eis die vinnige vervolging van die ontwikkelaar wat prosesse omseil het. Hy beklemtoon amptenare moet aanspreeklik gehou word en sê die gesinne van die 34 slagoffers verdien onmiddelik geregtigheid:
# Duitsland se konserwatiewe leier, Friedrich Merz, het onverwags te min steun gekry in die Parlement om kanselier te word. Hy het 316 van die 630 setels in die Bundestag nodig gehad, maar kon slegs 310 gekry. Dit is ’n beduidende terugslag vir die leier van die Christen-Demokrate wat twee en ’n half maande gelede die federale verkiesing gewen het. Merz se mislukking in die eerste stemming is ongekend in die moderne Duitse geskiedenis. Die Bundestag het nou 14 dae om hom of ’n ander kandidaat as kanselier te kies.
# Die Internasionale Krieketraad het Krieket Kanada versoek om meer inligting te verskaf oor hoe hulle hul nuwe uitvoerende hoof, Salman Khan, aangestel het ondanks bewerings van bedrog en diefstal teen hom. Hy staan tereg op strafregtelike aanklagte wat voortspruit uit sy termyn as president van die Calgary- en Distriks-krieketliga. Khan en die liga se tesourier het na bewering tussen 2014 en 2016 fondse wanbestee. Hy het enige oortreding ontken. Die IKR wil ook weet watter stappe Krieket Kanada teen Khan gedoen het, indien enige.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 24-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-244-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-380-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….