Nuus 14:00
BULLETIN 5 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile sê baie werk moet nog gedoen word om regverdige en inklusiewe ekonomiese vryheid te bereik
# Oliepryse tuimel na die aankondinging van ‘n skerp produksieverhoging
# En vullisherwinners bespaar Johannesburg miljoene rand per jaar
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê dit is steeds die regering se oorkoepelende doelwit om die ontwikkeling van ’n inklusiewe ekonomie te bevorder. Hy het tydens die bekendstelling van die Transformasiefonds in die Vryheidspark-erfenisterrein en -museum in Pretoria gesê daar is steeds baie werk wat gedoen moet word om regverdige en inklusiewe ekonomiese vryheid vir alle Suid-Afrikaners te bereik:
ActionSA vra die regering van nasionale eenheid intussen om spoedige ekonomiese hervormings deur te voer. Dit volg terwyl die minister van Finansies, Enoch Godongwana, voorberei om die nasionale begroting later die maand die derde keer ter tafel te lê. Alan Beesley van ActionSA sê die regering het misluk om aandag te gee aan ingewortelde probleme wat die ekonomie knou, insluitend voorkeur aan sleutelbedrywe soos staal, en die herstel van vrag- en elektrisiteits-infrastruktuur:
# Oliepryse het vandag getuimel nadat OPUL Plus-lande ‘n skerp toename in produksie aangekondig het. Dit volg ondanks kommer oor oor-aanbod en groeiende vrese dat die Amerikaanse president, Donald Trump, se handelsoorlog die vraag kan verswak. Saoedi-Arabië, Rusland en ses ander lede van die olie-kartel het die naweek ’n produksieverhoging van 411-duisend vate per dag vir Junie aangekondig, net ’n maand nadat ’n soortgelyke stap reeds pryse laat daal het. Die prys van ruolie het ook begin daal weens vrese oor ’n wêreldwye ekonomiese verlangsaming as gevolg van Trump se tariefaanslag.
# Rugby: Die Springbok-sewes se afrigter, Phillip Snyman, sê om die Sewes-wêreldkampioenskap in Los Angeles te kon wen, bewys die span is terug na waar hy moet wees. Die Blitsbokke het eers groep-oorwinnings behaal oor Frankryk, Brittanje en Argentinië, Nieu-Seeland daarna in die halfeind verslaan en Spanje toe 19-5 oorrompel in die eindstryd. Snyman sê die span het dwarsdeur die toernooi ‘n verstommende vertoning gelewer:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 20-rand-75-sent teen die euro en 24-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-405-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-314-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-40-sent per vat.
# En ten slotte: Afvalherwinners bespaar die Johannesburgse metro na raming jaarliks 780-miljoen-rand aan ruimte vir stortingsterreine. Die African Reclaimers Organisation sê hulle samel bykans 90-persent van die metro se herwinbare materiaal in – sonder enige amptelike erkenning of ondersteuning. Hul programkoördineerder, Nandi Tutani, sê herwinners is kundiges – nié haweloses nie – en benodig veilige werkruimtes. ARO skakel intussen met die metro oor die beveiliging van infrastruktuur en die verandering van die publiek se houding teenoor hierdie noodsaaklike, maar opsy-geskuifde werkers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….