Nuus 14:00
BULLETIN 30 April 2 nm
Goeiemôre/Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Polisievakbond vra inligting oor vermiste voertuig ná polisielede se dood
# Regspraktykraad laat vaar drie wangedragklagtes teen advokaat Dali Mpofu
# En, daar is goeie rugbynuus vir Springbok-ondersteuners
# Die Suid-Afrikaanse Polisie-unie, SAPU doen ‘n beroep op lede van die publiek om na vore te kom met inligting oor die vermiste motor waarin drie Vrystaatse polisiebeamptes gereis het. Die drie konstabels het vermis geraak terwyl hulle op pad was van Bloemfontein na Limpopo om vir drie maande onder Operasie Vala Umgodi ontplooi te word. Hulle liggame is in die Hennopsrivier in Centurion gevind. SAPU-woordvoerder Lesiba Thobakgale sê hulle dood is ʼn verlies vir die polisie:
# Die Regspraktykraad se verhoor teen advokaat Dali Mpofu is in Pretoria uitgestel. Die vertraging is veroorsaak deur elektrisiteitsprobleme en die raad se besluit om die klagstaat aan te pas. Mpofu het bevestig dat drie van die sewe klagtes teruggetrek is, en dat ’n nuwe klagstaat aan sy regspan voorsien sal word. Hy het die klagtes ’n ongegronde aanval op swart beroepslui genoem:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê die vertragings in die hernuwing van rybewyse is onaanvaarbaar. Suid-Afrika se enigste lisensiekaartdrukker is sedert Februarie buite werking en die vakbond doen ‘n beroep op die Departement van Vervoer om dringend die verouderde masjien, wat al meer as 20 jaar in gebruik is, te herstel of te vervang. Claude Naiker van die vakbond waarsku dat onreëlmatige verkrygingsprosesse en hofgedinge die krisis vererger, en stel voor dat die geldigheid van rybewyse tot tien jaar verleng word om die druk te verlig.
# ‘n Amerikaanse amptenaar het aan die Internasionale Geregshof gesê daar is “ernstige kommer” oor die onpartydigheid van die VN-agentskap vir Palestynse vlugtelinge. Geregshof-regters hou ‘n week van verhore om te help met die formulering van ‘n raadgewende mening oor Israel se verpligtinge teenoor VN-agentskappe wat hulp verleen aan Palestyne in Gaza. Ongeveer 40 nasies, insluitend Suid-Afrika, en organisasies soos die Liga van Arabiese State neem deel. Israel neem nie deel nie, maar het die verhore afgemaak as deel van die “stelselmatige vervolging en delegitimisering” van die land.
# Rugby: Die goeie nuus vir Springbok-ondersteuners is dat Pieter-Steph du Toit, een van die Wêreldbekerhelde, ná ‘n skoueroperasie terug in Japan is. Dit is egter nog nie duidelik wanneer hy weer sal speel nie. Hy het laas in November gespeel, en sy span, Verblitz, staar relegasie in die gesig met slegs twee ligawedstryde om te speel. Du Toit moet weer wedstrydfiks word sodat hy op 28 Junie vir die Bokke teen die Barbarians kan uitdraf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 21-rand-15-sent teen die euro en 24-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-930-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-278-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….