Nuus 14:00
BULLETIN 25 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cholota se jurisdiksie-betwisting stuur af op ‘n binneverhoor
# Hoë verkeersvolumes word verwag op die N3-tolroete na KZN
# En, AfriForum dien geskrewe besware in oor privaat sekerheidsregulasies
# Regter Phillip Loubser van die Hooggeregshof in die Vrystaat het beslis dat die gewese persoonlike assistent van die voormalige premier Ace Magashule, Moroadi Cholota, se betwisting van die hof se jurisdiksie oor haar uitlewering vanuit Amerika in ’n binneverhoor behartig sal word. Cholota, Magashule en ander staan tereg in die asbes-saak van 255-miljoen-rand. Loubser het bevind dat die staat nie daarin geslaag het om die voortsetting van die hoofverhoor te regverdig voordat haar spesiale pleit afgehandel is nie:
# AfriForum het geskrewe besware teen die voorgestelde wysigings aan die Wet op die Reguleringsowerheid vir die Privaat Sekerheidsbedryf ingedien. Die besware word gesteun deur meer as 12-duisend handtekeninge. Jacques Broodryk van AfriForum waarsku dat die voorgestelde wysigings die privaat sekerheidsektor kan ontwapen en openbare veiligheid in gevaar kan stel. Broodryk het ook bevestig dat AfriForum ‘n versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ingedien het, om duidelikheid te kry oor die invloed op korrektiewe inrigtings:
# Die N3-tolkonsessie en sy vennote in die padvoorvalbestuurstelsel is gereed vir ’n verwagte toename in suidwaartse verkeersvolumes na KwaZulu-Natal van vanmiddag tot laat vanaand. Woordvoerder Thania Dhoogra sê padgebruikers moet altyd voorbereid wees op skielike veranderings in weersomstandighede wat die vloei van verkeer kan beïnvloed en tot opeenhopings en vertragings kan lei:
# Die koninkryk van Lesotho het ‘n spesiale mis ter ere van wyle Pous Franciskus gehou in die Our Lady of Victory-katedraal in Maseru. Daar is ‘n beduidende Rooms-Katolieke gemeenskap in Lesotho. Koningin Masenate Seeiso en eerste minister Sam Matekane, wat albei toegewyde Katolieke is, het die diens bygewoon en hul medelye betoon. Die kerk se aartsbiskop, Tllali Lerotholi, het die pous se begeerte benadruk vir vrede in oorloggeteisterde lande.
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Carlos Alcaraz, hoop om fiks te wees om sy Franse Ope-titel te verdedig. Die Spanjaard het gister aan sy tuistoernooi in Madrid onttrek weens ‘n dyspier- en ‘n liesbesering wat hy opgedoen het tydens sy nederlaag teen Holger Rune van Denemarke in die eindstryd van die Barcelona Ope. Alcaraz sê hy sal volgende week verdere mediese toetse ondergaan en sal dan weet hoe lank hy buite aksie sal wees. Die Franse Ope, die kleibaan Grand Slam-toernooi, begin die 25ste van volgende maand in Parys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-89-sent teen die dollar, 21-rand-43-sent teen die euro en 25-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-901-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-302-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….