Nuus 14:00
BULLETIN 24 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zuma verloor nog ‘n ronde om aanklaer Downer van sy hofsaak te verwyder
# Die ANC sê konsensus is in die begroting bereik deur volwassenheid en dialoog
# En die DA vra ‘n koste-doeltreffende heropbou-program vir Tembisa-hospitaal
# Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg het oudpresident Jacob Zuma verlof geweier om te appelleer teen die besluit om staatsaanklaer Billy Downer nie van sy wapentransaksie-korrupsieverhoor te verwyder nie. Regter Nkosinathi Chili het bevind dat Zuma nie daarin geslaag het om te bewys dat Downer se beweerde vooroordeel sy reg op ‘n billike verhoor sou benadeel nie. Die hof het verwys daarna dat Zuma se betoë reeds in vorige uitsprake van die hand gewys is. Zuma is van voorneme om teen die beslissing te appelleer, wat die saak nog verder sal vertraag.
Die Franse wapenmaatskappy, Thales, wat saam met Zuma teregstaan, het intussen aansoek gedoen om vrygespreek te word in die langdurige korrupsiesaak. Thales se prokureur, Cameron Dunstan-Smith, het 16 uitstelle van die verhoor en die dood van twee sleutelgetuies as redes aangevoer. Dunstan-Smith sê dit belemmer die maatskappy se reg op ‘n billike verhoor. Die Nasionale Vervolgingsgesag staan die aansoek teen. Thales en Zuma word aangekla in die saak wat gekoppel is aan die wapentransaksie van die 1990’s waar ‘n jaarlikse omkoopbedrag van 500-duisend-rand betrokke is.
# Die ANC sê die omkeer van die BTW-verhoging is ‘n oorwinning vir die Parlement en Suid-Afrikaners. Die ANC, die IVP, ActionSA, die PAC, Rise Mzansi, BOSA, die UDM, die GOOD-party, Al-Jamah en die Patriotic Alliance het ‘n nuuskonferensie gehou ná die besluit. Die ANC se woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, en die Tesourie geprys oor hul respek vir parlementêre prosesse, en alle partye bedank vir hul hulp om die begrotings-dooiepunt op te los:
# Die DA in Gauteng vra dat die afdelings in die Tembisa-hospitaal wat weens brande verwoes is, vinnig en op ‘n kostedoeltreffende manier herbou moet word. Die party waarsku oorbevolking sal vererger as pasiënte verskuif moet word ná die tweede brand. Jack Bloom van die DA waarsku teen enige betrokkenheid van die Departement van Infrastruktuurontwikkeling, met verwysing na sy swak prestasiegeskiedenis. Hy is van mening ‘n bekwame projekspan moet aangestel en insette van die privaat sektor moet ook oorweeg word:
# Sokker: Matheus Nunes sê om te kwalifiseer vir die Kampioeneliga sal nou Manchester City se ‘Premieliga-trofee’ wees na ‘n swak liga-veldtog. Die Portugese internasionale speler het Dinsdag die wendoel teen Aston Villa aangeteken, wat City na derde plek op die punteleer laat opskuif het. Liverpool is feitlik verseker van die Liga-titel en Arsenal is gemaklik in die tweede plek, terwyl vyf klubs dit uitspook vir die drie oorblywende posisies om volgende seisoen in Europa se top klubkompetisie te speel. Nottingham Forest, Newcastle en Chelsea het ook ‘n kans.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-70-sent teen die dollar, 21-rand-30-sent teen die euro en 24-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-495-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-329-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….