Nuus 14:00
BULLETIN 17 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Rubio ontmoet Macron in Parys om ‘n wapenstilstand in Oekraïne te probeer bewerkstellig
# Die Wes-Kaap ontvang ‘n rekordgetal skoolaansoeke vir 2026
# En skietkuns keer terug na die Olimpiese Spele in Los Angeles in 2028
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, vergader vandag in Parys met die Franse president, Emmanuel Macron, oor ‘n wapenstilstand in Oekraïne terwyl Washington en Europa na gemeenskaplike grond soek om die vyandelikhede te beëindig. Hoogeplaasde Oekraïense amptenare is ook teenwoordig om afvaardigings van die Europese Unie en Amerika te ontmoet. Die Amerikaanse president, Donald Trump, se spesiale gesant in Oekraïne, Keith Kellogg, is ook daar, en die Amerikaanse gesant Steve Witkoff word ook verwag. Trump se skietstilstand-poging was nog vrugteloos ondanks sy beloftes van ‘n vinnige oplossing.
# Cosatu bevestig sy volle ondersteuning aan Mcebisi Jonas nadat president Cyril Ramaphosa die voormalige adjunkminister van Finansies as presidensiële gesant na Amerika aangestel het. Woordvoerder, Matthew Parks, sê die vakbondfederasie sal voortgaan om saam met die regering en handel te werk om te verseker dat die verhouding met Amerika op ’n wedersyds-voordelige roete geplaas word. Hy sê dis nodig om werksgeleenthede te beskerm en sal verdere handel en beleggings tussen die lande ontsluit.
# ActionSA het diep kommer uitgespreek oor die regering se doelgerigte pogings om die hervestiging van die Taiwanese skakelkantoor van Pretoria na Johannesburg af te dwing. Matthew George van ActionSA sê die regering se optrede, aangevuur deur twyfelagtige motiewe, weerspieël ’n gedrag wat die beginsels van wedersydse respek en diplomatieke hoflikheid ondermyn – beginsels wat aan alle buitelandse verteenwoordigers betoon moet word:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het ‘n rekord 164-duisend-565 aansoeke betyds ontvang vir Graad R-, 1- en 8-plasings in 2026. Dit is ‘n toename van 12-duisend-577 vanaf die vorige jaar. Die departement het aangekondig skole sal vanaf 30 Mei plasings begin aanbied, en ouers moet teen 17 Junie bevestig. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, sê laat aansoeke sluit die 16de Mei:
# Die Internasionale Skietkuns-federasie het die terugkeer van die sport op 2028 se OlimpieseSpele in Los Angeles verwelkom. Die federasie sê dit sal skyfskiet insluit op ’n tydelike binnenshuise baan in Long Beach, en haelgeweer-items in El Monte – albei binne Los Angeles-distrik. Die president van die federasie, Luciano Rossi, het die besluit geprys en die belangrikheid beklemtoon dat atlete in die hoof-Olimpiese ervaring ingeskakel moet word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-85-sent teen die dollar, 21-rand-43-sent teen die euro en 24-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-249-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-323-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….