Nuus 14:00
BULLETIN 16 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kamer van Nywerheid sê sakevertroue is op ‘n hoogtepunt ondanks globale onsekerheid
# Die DA eis die terugtrekking van omstrede rasreëls in aktekantore
# En boks: ‘n Promotor glo nie Tyson Fury sal dié keer terugkeer nie
# Die Suid-Afrikaanse Kamer van Handel en Nywerheid sê Suid-Afrika se sakevertroue toon steeds ’n positiewe neiging en het gestyg van 107.8 in Mei 2024 tot ’n hoogtepunt van 125.8 in Februarie vanjaar. Uitvoerende Alan Mukoki sê hoewel daar in Maart ’n effense daling na 123.5 was, bly die sentiment steeds sterker as die vorige jaar. Mukoki het belangrike invloede uitgelig, insluitend toerisme, uitvoere en laer inflasie. Hy noem egter dat wêreldwye ekonomiese veranderinge, fiskale onsekerheid en die vertraagde 2025/26 plaaslike begroting negatiewe druk uitoefen. Hy waarsku teen belastingverhogings wat sakegroei en werkskepping kan belemmer.
# Die DA eis die minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, Mzwanele Nyhontso, moet die nuwe rasreëls in aktekantore terugtrek. Die reëls vereis van eiendoms-oordragpartye om hul ras te verklaar of gevaar te loop dat hulle transaksie verwerp kan word. Die party voer aan hierdie regulasies maak inbreuk op privaatheidsregte en is ongrondwetlik. Die DA benadruk dit oortree die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting en ondermyn eiendomsreg. Hulle sal ‘n regsmening bekom om die reëls uit te daag.
# Build One South Africa is woedend oor die onthulling van 5,2-miljoen-rand se wanbesteding in die Oos-Kaap, wat geoormerk was vir skoolinfrastruktuur. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê volgens die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, se antwoord in die Parlement het die fondse deel gevorm van die Skoolinfrastruktuur-agterstandtoekenning. Hy sê dis misbruik tydens infrastruktuurprojekte wat die provinsiale Departement van Openbare Werke bestuur het:
# Die ACDP het sy parlementslid, Steve Swart, se onlangse reis na Israel verdedig en dit as ’n regmatige feitesending beskryf, wat deur die party goedgekeur is. Die ACDP het die kritiek van die ANC en die GOOD-party verwerp en die reg beaam van Christelike gelowiges om die Heilige Land te besoek. Partyleier Kenneth Meshoe het die ACDP se veroordeling van Hamas se 7 Oktober-aanvalle herhaal en Israel se reg op selfverdediging erken:
# Boks: Die promotor Bob Arum glo nie Tyson Fury sal weer ‘n ommekeer maak nie. Die 36-jarige Britse swaargewig het in Januarie onverwags uitgetree nadat hy weereens ‘n wêreldtitel-geveg teen die Oekraïner Oleksandr Usyk verloor het. Fury het al meer as een keer tevore uitgetree, maar Arum glo nie dat hy meer bereid is om vroeg op te staan en te oefen terwyl hy nie geld nodig het nie. Hy het ‘n geskatte 942-miljoen-rand verdien in sy loopbaan waartydens hy 34 van sy 37 beroepsgevegte gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-89-sent teen die dollar, 21-rand-46-sent teen die euro en 25-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-911-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-301-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….