Nuus 14:00
BULLETIN 14 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa wys Mcebisi Jonas aan as st gesant vir diplomatieke en handelsbande met Amerika
# Besnoeiings aan die verdedigings-begroting bedreig beleggersvertroue in Suid-Afrika
# En SANParke versoek Paasnaweekbesoekers aan die Krugerwildtuin om vooraf aanlyn te bespreek
# President Cyril Ramaphosa het die voormalige adjunkminister van Finansies, Mcebisi Jonas, as sy spesiale gesant na Amerika aangestel. Jonas sal Suid-Afrika se diplomatieke en ekonomiese belange verteenwoordig en met Amerikaanse regeringsamptenare en sakeleiers in gesprek tree om bilaterale bande te versterk. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Jonas het voorheen gedien as een van die president se beleggingsgesante en sal voortgaan in sy rol as die groepsvoorsitter van MTN terwyl hy sy nuwe pos beklee:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Verdediging en Militêre Veterane sê beleggersvertroue verkeer in gevaar weens verswakte sekerheid. Die voorsitter, Dakota Legoete, het ‘n vermindering van 50-miljard-rand in die befondsing vir die Suid-Afrikaanse Weermag oor 15-jaar beskryf as ‘n grondwetlike bekommernis. Legoete het aan Newzroom Afrika gesê ‘n sterk Weermag is die sleutel tot veiligheid en ekonomiese groei. Hy waarsku teen stygende onreëlmatige uitgawes in die departement te midde van voortgesette begrotingsbesnoeiings:
# Die Wes-Kaapse wetgewer se staande komitee oor Infrastruktuur het die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, genooi om voor hom te verskyn om die verslag oor die gebouramp in George voor te lê. Die minister het verlede week die Nasionale Huisbouersregistrasieraad se bevindings oor die ineenstorting van die gebou bekendgemaak. Vier-en-dertig mense is dood in die voorval in Mei verlede jaar. Dirk Wessels van die DA sê die ramp was ‘n strukturele, menslike en bestuurstragedie:
# SANParke versoek Paasnaweekbesoekers aan die Krugerwildtuin om vooraf aanlyn te bespreek as gevolg van die verwagte hoë getalle. Woordvoerder JP Louw sê hek-kwotas en tydgleuwe sal ingestel word, en bykomende amptenare sal besoekers se spoed en gedrag monitor. Louw het beklemtoon voertuie sonder nommerplate sal toegang geweier word. Hy bepleit samewerking, veiligheid en respek vir parkreëls om ‘n gladde, aangename besoek oor Paastyd te verseker.
# Tennis: Die viermalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz, is weer die wêreld-nommer-twee nadat hy die Monte-Carlo-meesterstitel ingepalm het. Die Spanjaard het die Italianer Lorenzo Musetti in drie stelle verslaan om sy sesde ATP-meesters-een-duisend-titel te verower. Jannik Sinner van Italië is steeds boaan die ATP-ranglys terwyl Alexander Zverev van Duitsland na die derde plek teruggesak het. Alex de Minaur van Australië skuif drie plekke op na sewende, terwyl Andrey Rublev van Rusland agtste is, gevolg deur sy landgenoot, Daniil Medvedev, wat terug is onder die top-tien.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 21-rand-50-sent teen die euro en 24-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-418-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-218-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….