Nuus 14:00
BULLETIN 15 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Buitelandse beleggers onttrek die afgelope dekade meer as ‘n duisend-miljard-rand se beleggings
# Olimpiese Spele: Die reis begin vandag om die vlam van Olimpia in Griekeland na Parys te neem
# En, Mail and Guardian ondersteun Daily Maverick se 24-uur-sluiting
# Meer as een-duisend-miljard-rand is die afgelope dekade uit Suid-Afrikaanse aandele en effekte onttrek. Ou Mutual se voorsitter en oud-minister van Finansies, Trevor Manuel, skryf dit toe aan dalende vertroue te midde van regeringskrisisse. Manuel sê beleggers soek regulatoriese bestendigheid. Hy beklemtoon beleidsekerheid en samewerking tussen sektore vir die herlewing van beleggingsvertroue. Manuel sê ondanks pogings om instellings en die ekonomie te herbou, is meer werk nodig om korrupsie uit te roei en vertroue te herwin. Hy vra ‘n balans in fiskale behoeftes met duidelike langtermyn-regulasies.
# ActionSA sê hy het die leiers van die vier grootste partye in die Nasionale Vergadering – die ANC, die DA, die EFF en die IVP – gevra om binne14 dae vrywillige leefstyloudits te ondergaan. ActionSA se leier, Herman Mashaba, sê die onafhanklike forensiese deskundige, Paul O’Sullivan, het reeds ingestem om hierdie leefstyloudits te doen teen ‘n geraamde koste van vyf- tot tienduisend-rand, wat ActionSA sal betaal:
# Die DA in Gauteng sê die provinsiale Gesondheidsdepartement bestee 14-miljoen-rand per jaar aan elf Kubaanse dokters, ten spyte van die groot aantal werklose Suid-Afrikaanse dokters. Die LUR vir Gesondheid en Welstand, Nomantu Nkomo-Ralehoko, het dit bekend gemaak in ‘n skriftelike antwoord op die DA se vrae in die provinsiale wetgewer. Jack Bloom van die DA sê die Kubane se jaarlikse salarispakkette wissel van 1,2- tot 1,6 miljoen-rand:
# Die Olimpiese vlam word vandag in Griekeland aangesteek waarna dit na Frankryk geneem sal word vir vanjaar se Spele in Parys. Die vlam word in Olimpia aangesteek waar die antieke Spele ontstaan het. Dit sal volgende Vrydag aan die organiseerders van die Spele oorhandig word in Athene, waar die eerste moderne Olimpiese Spele in 1896 gehou is. Van daar sal dit met ‘n 19de-eeuse vaartuig na Frankryk geneem word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-512-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-350-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-63-sent per vat.
# En ten slotte: Die direkteur van Mail and Guardian, Thembisa Fakude, het sy ondersteuning gebied aan Daily Maverick met sy 24-uur-sluiting en deel die kommer oor joernalistiek en sy finansiële krisis. Fakude het die noodsaaklike rol van media in ‘n gesonde demokrasie uitgelig en oproepe vir openbare, sake- en beleidmaker-steun onderskryf. Beide publikasies beklemtoon ‘n robuuste mediasektor is noodsaaklik vir maatskaplike welstand. Hy sê hul solidariteit het ten doel om die dringende behoefte aan volhoubare joernalistiek uit te lig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….