Nuus 14:00
BULLETIN 4 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola waarsku Amerikaanse tariewe ondermyn wedersydse groei en globale samewerking
# SANTACO Gauteng vra vir optrede na moorde in die taxibedryf
# En, ‘n Hamas-bevelvoerder is dood in ‘n Israeliese aanval in Libanon
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die nuwe Amerikaanse tariewe op Suid-Afrikaanse goedere bedreig billike handel en gedeelde ekonomiese groei. Lamola en die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, was op ‘n gesamentlike nuuskonferensie waar Lamola gesê het die 31-persent tariewe wat op 9 April in werking tree, ondermyn handelsvennootskappe soos die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika en dit kan sleutelsektore soos die motor-, landbou- en vervaardiging-sektore benadeel:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxi-raad in Gauteng vra vir dringende wetstoepassing na dodelike aanvalle op lede van die taxibedryf in Mabopane, Hartbeespoort, Johannesburg, Sedibeng en Ekurhuleni. Sekretaris van Santaco in Gauteng, Graham Fritz, sê die geweld is verwoestend vir families en gemeenskappe. Hy het die polisie aangemoedig om patrollies en ondersoeke te vermeerder, en het ‘n beroep gedoen op die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer om konflik oor roetes, wat geweld aanwakker, op te los.:
# Israel het aangekondig ‘n bevelvoerder in die Palestynse militante groep Hamas, Hassan Farhat, en sy volwasse seun en dogter is dood tydens ‘n Israeliese aanval in die Libanese hawestad Sidon. Die Libanese premier, Nawaf Salam, het die aanslag veroordeel en noem dit ‘n “afgryslike aanval op Libanese soewereiniteit” en ‘n verbreking van die 27 November wapenstilstand met Israel. Israel beweer Farhat het verskeie aanvalle op Israeliese soldate en burgerlikes gereël tydens die vyandelikhede ná die oorlog in Gaza in Oktober 2023 begin het.
# Rugby: Springbok-heelagter, Willie le Roux, het sy kontrak met die Bulle tot Junie 2027 verleng. Sedert hy aan die einde van die 2023 Wêreldbeker by Loftus in Pretoria opgedaag het, het hy 29 keer op die veld gedraf in die Verenigde Rugbykampioenskap en die Kampioenebeker. Die veelsydige agterspeler en dubbelle-Wêreldbeker-wenner het aanvanklik ‘n driejaar-kontrak geteken wat tot die einde van Junie 2026 in werking sou wees. Le Roux sê die volgende 12 weke is baie belangrik vir die Bulle, want hulle is in die uitkloprondtes van kompetisies en daar is geen tweede kanse nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-91-sent teen die euro en 24-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-532-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-96-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-80-sent per vat.
# En laastens, die wenner van 20 Grammy-toekennings, Bruce Springsteen, gaan sewe albums, waarvan die meeste liedjies nog nie gehoor is nie, op 27 Junie uitreik. Die versameling van 83 liedjies, waarvan 74 nog nooit amptelik uitgereik is nie, gaan as ‘n stel beskikbaar gestel word met die titel Tracks II: The Lost Albums. Springsteen, een die wêreld se gewildste kunstenaars, sê die liedjies is tussen 1983 en 2018 gekomponeer en opgeneem:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….