Nuus 14:00
BULLETIN 2 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Dierebeskermingsvereniging behaal ‘n oorwinning in die Vrede-melkplaas-hofsaak
# OUTA dreig met regstappe as die agterstand met die uitreiking van rybewyse nie uitgewis word nie
# En padwedlope: ‘n Britse atleet weier om deel te neem omdat atlete hulle eie uitgawes moet betaal
# Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings sê hy het die verdediging se regsmaneuvers suksesvol teëgewerk in die voortslepende dieremishandelingsaak teen die Vrede Integrated Farming Trust, voorheen bekend as die Estina Melkplaas in die Vrystaat. Die raad se woordvoerder, Jacques Peacock, sê die beskuldigdes het probeer om strafregtelike aanspreeklikheid te ontduik deur aan te voer die trustees is ingevolge die Wet op die Beheer van Trusteiendom slegs verantwoordbaar aan die Meester van die Hooggeregshof:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik eis dringende optrede van die minister van Vervoer, Barbara Creecy, oor die voortslepende agterstand met die uitreiking van rybewyse, en dreig regstappe sal volg as die regering nie optree nie. Hulle vra die verlenging van rybewyse tot tien jaar, die onmiddelike herstel van die land se enigste kaartdrukker en duidelikheid oor die gekanselleerde tender. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê motoriste ly as gevolg van die gebrek aan optrede, en eis deursigtigheid en oplossings:
# Cosatu verwelkom die regering se poging om ArcelorMittal Suid-Afrika se twee sleutel-staalfabrieke in Newcastle en Vereeniging in werking te hou. Dit volg nadat die onderneming die besluit om sy lang staal-onderneming te sluit, tot 31 Augustus uitgestel het, omdat hy ‘n lening van 1,68-miljard-rand van die regering se Nywerheidsontwikkelings-korporasie ontvang het. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê hy is bly ArcelorMittal het ‘n Tydelike Werknemerverligtingskema-toelaag ontvang om te help om die werknemerkoste te help befonds:
# Padwedlope: Die Olimpiese langafstandatleet, Ben O’Connor, gaan nie dié maand vir Brittanje deelneem aan die Europese kampioenskap nie omdat daar van atlete verwag word om hulle eie reis-, verblyf-, kos- en toerustingonkoste te dek. Dit kan meer as 26-duisend-rand beloop. O’Connor is gekies om in Leuven, België, aan die halfmarathon deel te neem. Hy sê Engeland Atletiek het aangebied om sy onkoste te betaal en hoewel hy dankbaar is daarvoor, voel hy verteenwoordiging moet nie afhang of ‘n atleet daarvoor kan betaal of nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 24-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-221-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-129-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar per vat.
# En laastens, die Green Connection sê Suid-Afrika se Billike Energieoordrag het nie met gemeenskappe op voetsoolvlak beraadslaag en hulle ingesluit by besluitneming oor energieprojekte nie. Die projek is in 2021 bekendgestel om ekonomieë wat van steenkool afhanklik is te help om na skoner energiebronne oor te skakel. Green Connection sê steenkool-, olie- en gasprojekte het voorheen gemeenskappe waar hulle bedrywig is se gesondheid in gevaar gestel eerder as om hulle op te hef. Hy sê hulle wil seker maak die oorgang na billike energie word van onder na bo gedryf en nie andersom nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….