Nuus 14:00
BULLETIN 1 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die wêreld skarrel voor Trump ‘n nuwe reeks tariewe instel
# Suid-Afrikaanse mynmaatskappye tree in nadat Amerika MIV-hulpverlening stop
# En krieket: Kraigg Brathwaite bedank as toetskaptein van die Windies
# Handelsvennote van Amerika skarrel om voor te berei vir president Donald Trump se nuutste reeks tariewe nadat hy nie duidelikheid verstrek het oor wie geteiken gaan word om, wat hy noem, onregverdige handelswanbalanse reg te stel nie. Hy het ongekend gebruik gemaak van presidensiële magte sedert hy in Januarie na die Withuis teruggekeer het, en sê hy mag binnekort aankondig watter wederkerige tariewe opgelê gaan word. Volgens Trump is die wêreld se grootste ekonomie deur elke land in die wêreld gekul en hy beloof ‘n bevrydingsdag vir Amerika.
Suid-Afrikaanse mynmaatskappye en die versekeraar Discovery het intussen ingetree om die leemte te vul ná Amerikaanse hulpverlening aan MIV-programme in Afrika gestaak is. Die Departement van Gesondheid het mynondernemings gevra om te help met die verspreiding van MIV-middels en om gemeenskapsuitreike uit te brei. Kenners waarsku 7,8-miljoen Suid-Afrikaners leef met MIV en 25 jaar se vordering kan nou omgekeer word. Impala Platinum en ander ondernemings sal met die regering vergader om oplossings te bespreek te midde van toenemende kommer oor openbare gesondheid.
# Die Grensbestuursowerheid, in vennootskap met Brand South Africa en die Instituut vir Globale Dialoog, bied ‘n simposium in Pretoria aan oor grens- en migrasiebeheer om korrupsie hok te slaan. Afgevaardigdes sal wetenskaplike oplossings deel oor die beveiliging van Suid-Afrika se grense. Dit volg nadat 33 amptenare sedert April 2023 afgedank is. Die woordvoerder, Mmemme Mogotsi, beklemtoon korrupsie bly ‘n groot kwessie wat uitgeroei moet word:
# ActionSA se Vroueforum sê dis kommerwekkend dat die Bergville College-skool in die Oos-Kaap skynbaar meer fokus op die beskerming van sy reputasie eerder as om sy samewerking aan wetstoepassers te gee om geregtigheid te verseker vir die sewejarige verkragting-slagoffer, Cwecwe. Die party sê skole moet ‘n plek van veiligheid vir kinders wees, nie ruimtes waar hulle kwesbaar is vir misdadigers nie. Mpumi Edward van ActionSA sê hulle pleit deurlopend vir geen verdraagsaamheid teen geslagsgeweld:
# Krieket: Kraigg Brathwaite het as toetskapten van die Wes-Indiese Eilande uitgetree. Die 32-jarige Brathwaite het die span sedert 2017 in 39 toetse aangevoer, waarvan hulle tien gewen en 22 verloor het. Die hoogtepunte tydens sy kapteinskap sluit in hul eerste toetsoorwinning in Australië in 27 jaar in Januarie verlede jaar. Die eendagkaptein, Shai Hope, het vroeër vir Rovman Powell as T20-kaptein vervang. Die Windies se beheerliggaam sê ‘n nuwe toetskaptein sal binne die volgende paar weke aangewys word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-480-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-135-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….