Nuus 14:00
BULLETIN 12 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF se sekretaris-generaal word skuldig bevind aan die aanval op ‘n polisieman by die Parlement
# Meer amptenare word permanent aangestel om veiligheid by tronke te bevorder
# En, rugby: Engelse en Franse spanne oorheers die Kampioenebeker-kwarteindronde
# Die EFF se sekretaris-generaal, Marshall Dlamini, is skuldig bevind aan aanranding en opsetlike saakbeskadiging vir sy betrokkenheid by ‘n onderonsie met ‘n polisieman by die Parlement. News24 berig die Kaapstadse Streekhof het hom daaraan skuldig bevind dat hy Johan Carstens in Februarie 2019 aangerand het tydens ‘n voorval ná die staatsrede. Hy het Carstens in die gesig geslaan en sy bril gebreek. Landdros Nasha Banwari het Dlamini se bewering verwerp dat hy die partyleier, Julius Malema, teen ‘n beweerde sluipmoorddreigement beskerm het. Vonnisoplegging is geskeduleer vir 31 Mei.
# Die kommissaris van Korrektiewe Dienste, Makgothi Samuel Thobakgale, het die aanstelling van eenduisend-en-drie studente as permanente korrektiewe beamptes vir die 2024/25-boekjaar goedgekeur. Dit volg ná hulle deelname van 12 maande aan Korrektiewe Dienste se leierskapsprogram. Die departement se woordvoerder, Logan Maistry, sê hierdie aanstellings sal die veiligheid in tronke verbeter en meer amptenare beskikbaar stel:
# AfriForum het SANRAL ingelig oor sy kommer oor veiligheid op die brug naby die Hugenote-tonnel in die Boland. Dit volg nadat ‘n woonwa en ‘n sleepwa onlangs in stormweer van die brug van 45 meter hoog afgewaai het. Deon de Jager van AfriForum sê ‘n behoefte bestaan vir samewerking oor kort- en langtermyn-oplossings. Hy sê dit sluit in dat gevorderde windmetingstegnologie en hoër relings op hooggeleë brûe aangebring word:
# China het Amerika gevra om ‘n opbouende rol te speel in die Midde-Ooste, tydens ‘n telefoongesprek van sy topdiplomaat Wang Yi met sy Amerikaanse eweknie, Antony Blinken. China sê hy sal voortgaan om ‘n opbouende rol te speel in die oplossing van die Midde-Oosterse kwessie en bydra om die situasie te help ontlont. ‘n Woordvoerder van die ministerie van Buitelandse Sake het aan die Chinese media gesê dis verál Amerika wat ‘n opbouende rol moet speel.
# Rugby: Daar is die naweek vier Engelse spanne in die kwarteindronde van die Kampioenebeker, asook drie Franse spanne en een elk van Ierland en Suid-Afrika. Bordeaux ontvang Harlequins, Leinster verwelkom La Rochelle, Exeter Chiefs kom in Frankryk te staan teen Toulouse en die Bulle pak Northampton Saints in Engeland. Die Bulle se direkteur van rugby, Jake White, sê daar wag ‘n moeilike taak op sy span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-623-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-397-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….