Nuus 14:00
BULLETIN 25 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Algehele indiensneming in Suid-Afrika het verlede jaar met 91-duisend afgeneem
# Ramaphosa vra sterker rol vir verpleging in die gesondheidsorgstelsel
# En SAMWU veroordeel die wydverspreide vertragings met salaris-betalings by munisipaliteite
# Die algehele aantal werkende mense in Suid-Afrika het van Desember 2023 tot Desember verlede jaar met 91-duisend afgeneem. Volgens die kwartaallikse indiensnemingstatistieke wat Statistieke SA gepubliseer het, het voltydse indiensneming met 26-duisend afgeneem en deeltydse indiensneming met 65-duisend. Die direkteur van kwartaallikse indiensnemingstatistieke, Matlapane Masupye, sê die nuus vir die vierde kwartaal van verlede jaar was effens beter:
# President Cyril Ramaphosa sê verpleegkundiges is ‘n noodsaaklike deel van die gesondheidsorgstelsel en behoort ‘n sleutelrol in gesondheidshervormings te speel. Die president het op Denosa se negende nasionale kongres in Ekurhuleni ‘n sterker teenwoordigheid van verpleegkundiges gevra in beleidsontwikkeling, werkskepping en die versterking van die gesondheidsorgstelsel. Ramaphosa herbevestig die regering se verbintenis tot die ondersteuning van hierdie beroep, om te verseker verpleegkundiges werk in die beste moontlike omstandighede om gesondheidsorguitkomste in die land te verbeter:
# Die munisipale vakbond SAMWU veroordeel die voortgesette vertragings met salaris-betalings by munisipaliteite. SAMWU gee die Nasionale Tesourie die skuld vir onvoldoende befondsing en die verwaarlosing van landelike gemeenskappe. Munisipale werkers in gebiede soos Mamusa in Noordwes en Kopanong in die Vrystaat is volgens berigte reeds vir maande nie betaal nie en noodsaaklike dienste ly daaronder. SAMWU eis noodbefondsing om die onbetaalde salarisse te dek. Die vakbond vra ook ‘n moratorium op skuld en regstappe teen munisipaliteite wat arbeidskontrakte oortree.
# Die Internasionale Lugvervoervereniging sê hy gaan binnekort die Volhoubare Stralerbrandstofregister bekendstel, wat deur die Burgerlugvaart-ontkolingsorganisasie bestuur sal word. Die gebruik van volhoubare stralerbrandstof in plaas van konvensionele vliegtuigbrandstof kan lugvaart se koolstofvrystellings met tot 80-persent verminder. Die register sal help om die uitdaging van beperkte volhoubare stralerbrandstof op te los, wat uiters skaars is. IATA se direkteur-generaal, Willie Walsh, sê die register moet regerings, fossielbrandstofprodusente en beleggers inspireer om by die volhoubare stralerbrandstofmark betrokke te raak.
# Krieket: Delhi Capitals se onderkaptein, Faf du Plessis, sê hy steun die Indiese Premierliga se impakspeler-reël. Dit laat ‘n kolwer of bouler toe om enige tyd in die wedstryd ʼn ander speler in die begin-elftal te vervang. Die impakspeler-plaasvervanger Ashutosh Sharma se onoorwonne 66 van 31 balle het Delhi gister gehelp om Lucknow Super Giants met een paaltjie te klop. Du Plessis sê Sharma het die waarde van die reël bewys:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-990-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-21-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….