Nuus 14:00
BULLETIN 19 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Verbruikersinflasie bly bestendig op 3,2-persent in Februarie [KLANK]
# Oudpresident Motlanthe sê informele handel moenie as entrepreneurskap bestempel word nie
# En motorsport: ‘n Straatbaan-Grand Prix kan dalk in 2028 in Bangkok gehou word
# Statistieke Suid-Afrika sê jaarlikse verbruikersinflasie was verlede maand 3,2-persent en onveranderd sedert Januarie. Die jaarlikse koers vir voedsel en nie-alkoholiese drank het in Februarie tot ‘n viermaande-hoogtepunt versnel. Mieliemeel-inflasie het verlede maand ‘n hoogtepunt van 17-maande bereik en stampmielies ‘n hoogtepunt van 19-maande. Lekau Ranoto van Statistieke SA sê goedere-inflasie het effens toegeneem tot 2,5-persent, terwyl dienste-inflasie tot 3,8-persent gedaal het:
# Oudpresident Kgalema Motlanthe waarsku dat informele handel, soos spaza-winkels, nie as entrepreneurskap bestempel moet word nie, omdat daar geen volhoubare werk verskaf word nie. Motlanthe het by die Universiteit van Johannesburg beklemtoon die ekonomiese beleid wat selfstandige werk bevorder, misken die behoefte aan industrialisasie, infrastruktuur en bestendige werkstrukture. Hy beklemtoon ware ekonomiese groei verg langtermyn-werksgeleenthede en sterk ondersteuningstelsels:
# Die privaat hoër-onderwysinstelling MANCOSA-kollege sê die regering moet kubersekerheidswette afdwing, ‘n nasionale kubersekerheidstategie ontwikkel en noodsaaklike infrastruktuurbeskerming versterk. Volgens Interpol Afrika se Kubersekerheidsevaluaringsverslag van 2024 word gyselware en digitale afpersing uitgesonder as een van die ernstigste kuberbedreigings in Afrika. Stephan van der Westhuizen van MANCOSA sê sulke aanvalle is veral kommerwekkend weens die ernstige finansiële uitwerking en hulle vermoë om noodsaaklike infrastruktuur erg te ontwrig:
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, het bevestig dat die doelwitte van die Paryse Ooreenkoms steeds binne bereik is, al het verlede jaar se temperature die drempel van 1,5-grade Celsius bereik. Dit volg op die Wêreld-meteorologiese Organisasie se verslag wat kommerwekkende klimaatsneigings toon, insluitend rekord koolstofdioksiedvlakke en oseaanverhitting. Guterres raai wêreldleiers aan om vinnig op te tree, en hernubare energie en nasionale klimaatspakkette in te stel om temperatuurstyging teen te werk. Hy beklemtoon die behoefte vir dringende optrede om ‘n volhoubare toekoms te verseker.
# Motorsport: Thailand se regering beplan om ‘n haalbaarheidstudie aan te vra oor die moontlikheid om vanaf 2028 ‘n straatbaan-Grand Prix in die hoofstad, Bangkok, aan te bied. Dit volg op samesprekings tussen Formule Een se uitvoerende hoof, Stefano Dominicali, en Thailand se premier, Paetongtarn Shinawatra. Dominicali beskryf die plan as indrukwekkend, terwyl Shinawatra glo so ‘n wedren sal al die land se mense bevoordeel. Die huidige Formule Een-rooster van 24 wedrenne sluit vier in die Asië-Stille Oseaan-streek in.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-564-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-35-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….