Nuus 14:00
BULLETIN 17 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra dringende optrede om vroeë kinderontwikkeling uit te brei
# KwaZulu-Natal se premier sê meer fondse is nodig om infrastruktuur te herstel wat in vloede beskadig is
# En die SAOG en die Oos-Afrika Gemeenskap se ministers van Buitelandse Sake vergader in Harare oor die DRK-onttrekking
# President Cyril Ramaphosa vra dringende optrede om vroeë kinderontwikkeling uit te brei. Hy het tydens die Bana Pele 2030-leierskapsberaad in Johannesburg die belangrikheid daarvan beklemtoon om die siklus van armoede te verbreek en ekonomiese potensiaal te ontsluit. Ramaphosa sê sterk vroeë onderwys lei tot beter skooluitkomste, arbeidsmaggereedheid en langtermyn ekonomiese voordele:
# Die premier van KwaZulu-Natal, Thamsanqa Ntuli, sê die aanhoudende gure weerstoestande in die provinsie het aansienlike skade aangerig. Gesinne is ontwortel en infrastruktuur is beskadig. Die provinsiale regering werk saam met rampbestuurspanne en belanghebbendes om onmiddellike noodlenigingspogings te verseker, insluitend noodskuiling, kos en mediese bystand vir diegene wat geraak is. Ntuli sê die regering benodig meer geld om infrastruktuur te herstel:
# Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap sowel as die Oos-Afrika-Gemeenskap se ministers van Buitelandse Sake vergader vandag in Harare, Zimbabwe, ná die SAOG besluit het om sy soldate in fases te onttrek uit die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo. Angola se president en voorsitter van die Afrika-unie, João Manuel Gonçalves Lourenço, sal toesig hou oor die vredesproses. Intussen sal Zimbabwe en Kenia se ministers van Buitelandse Sake inligting verskaf oor besprekings rakende die streek se veiligheidsituasie namate pogings voortgaan om die konflikgeteisterde gebied bestendig te kry.
# Tennis: Die Brit Jack Draper het sewe plekke opgeskuif tot sewende op die jongste wêreldranglys nadat hy gister die Indian Wells Meesters-titel verower het. Die voormalige nommer een, Novak Djokovic van Serwië, het met twee plekke tot vyfde verbeter. Die geskorste Italianer, Jannik Sinner is steeds eerste, gevolg deur die Duitser Alexander Zverev, Carlos Alcaraz van Spanje en die Amerikaner Taylor Fritz. Casper Ruud van Noorweë is sesde, die Rus Daniil Medvedev het twee plekke tot agtste teruggesak, gevolg deur sy landgenoot Andrey Rublev, met Stefanos Tsitsipas van Griekeland wat die toptien voltooi.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-451-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-996-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-96-sent per vat.
# En laastens, TIME het die sewende jaar sy lys bekendgemaak van die wêreld se beste plekke om te besoek. Dit sluit alles in van vakansieoorde en seevaarte tot museums, restaurante en nasionale parke. In Suid-Afrika het The Manor in Johannesburg en die Few and Far Luvhondo Hotel in Limpopo die lys gehaal. Ander plekke op 2025 se lys sluit in die pas-herstelde Notre Dame-katedraal in Parys, die NamibRand-natuurreservaat in Namibië, Nintendo se heel eerste museum in Japan en Denemarke se nuwe Tiny Seaside-oorde, Loddenhøj en Skarrev.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….