Nuus 14:00
BULLETIN 14 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vervaardigingsproduksie daal met 3,3-persent in Januarie
# ‘n Gewese Filippynse president verskyn voor die Internasionale Strafhof op aanklagte van misdade teen die mensdom
# En ‘n e-taxidiens in Kaapstad werf 400 vroulike bestuurders
# Statistieke Suid-Afrika sê vervaardigingsproduksie het in Januarie met 3,3-persent afgeneem vergeleke met Januarie verlede jaar. Die grootste dalings is in petroleum, voedsel, drank en motorvoertuie. Die houtprodukte-sektor het egter positiewe groei getoon. Nicolai Claassen van Stats SA sê vervaardiging het die afgelope drie maande negatiewe groei ervaar, met verskeie sektore wat verliese aangeteken het:
# Die Instituut vir Rasseverhoudings sê hy waarsku al lankal oor die rampspoedige gevolge van ras-gegronde beleide en die inherente uitsluiting wat groei strem. JP Morgan het Suid-Afrikaanse aandele Dinsdag afgradeer en verwys na die uitwerking van beleid soos swart ekonomiese bemagtiging op groei. Makone Maja van die instituut sê hulle het sleutel-kabinetslede gevra om dringend die koste van die beperkings van swart ekonomiese bemagtiging op betrekkinge en beleggings te verduidelik:
# Die voormalige Filippynse president, Rodrigo Duterte, sal na verwagting later vandag sy eerste verskyning in die Internasionale Strafhof maak op aanklagte van misdade teen die mensdom. Die 79-jarige sal voor regters verskyn waar hy ingelig sal word oor die misdade wat hy na bewering gepleeg het, asook sy regte as ‘n beskuldigde. Die eerste Asiatiese staatshoof wat in die hof aagekla word, het volgens menseregtegroepe duisende mense laat vermoor tydens sy jare-lange veldtog teen dwelmgebruikers en handelaars.
# Rugby: Die Ierse losskakel Sam Prendergast is gestraf vir verlede naweek se swak vertoning teen Frankryk toe hy na die bank geskuif is vir môre se Sesnasieswedstryd teen Italië in Rome. Hy word vervang deur Jack Crowley, wat verlede jaar in al die verdedigende kampioen se wedstryde gespeel het. Die waarnemende hoofafrigter, Simon Easterby, het nog vyf veranderings aangebring aan die span wat verneder is teen Frankryk. Ierland is tans derde op die punteleer na Frankryk en Engeland, maar het steeds ‘n kans op ‘n derde agtereenvolgende titel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-973-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-989-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-29-sent per vat.
# En laastens, die wêreldwye leier in beweeglikheid, inDrive, gaan meer as 400 vroue-bestuurders in Kaapstad aanstel in ‘n poging om geslagsgelykheid in die e-taxibedryf te bevorder. Die projek is tydens Internasionale Vrouemaand van stapel gestuur en het ten doel om ekonomiese geleenthede vir vroue te skep en voorsiening te maak vir die vraag na vroue-bestuurders. Navorsing dui aan meer as 80-persent van passasiers verkies vroue-bestuurders. inDrive se verteenwoordiger in Suid-Afrika, Ashif Black, het aan TechFinancials gesê die skuif sal werkstoegang en pendelaarskeuse verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….