Nuus 14:00
BULLETIN 27 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Godfrey Lebeya se regsverteenwoordigers sê die polisie het nie sy regskoste betaal nie
# Drie mense sterf en vier word ernstig beseer in ‘n botsing op die N7 in Kaapstad
# En ‘n gletser-instorting is die moontlike oorsaak van die dodelike kitsoorstroming in Nepal en Tibet
# Die regspan van die voormalige hoof van die Valke, Godfrey Lebeya, het voor die Madlanga-kommissie getuig die Polisiediens dek nie sy regskoste nie. Die span is steeds bereid om die kommissie te help. Die voorsitter, oudregter Mbuyiseli Madlanga, het aangedui die kommissie het dalk nie die gesag om regstreeks in te gryp nie. Hy het Lebeya aangeraai om die polisie se besluit te betwis nadat sy getuienis afgehandel is:
# Die DA se burgemeesterskandidaat in die Gautengse metro Ekurhuleni, Khathutshelo Rasilingwane, het beloof sy sal binne haar eerste 100 dae ‘n onafhanklike eenheid vir die beskerming van verklikkers stig as sy verkies word. Dit sal amptenare ‘n veilige manier bied om ongerymdhede en korrupsie aan te meld sonder vrees vir intimidasie of vergelding. Rasilingwane het ook onderneem om korrupsie-bewerings te ondersoek en toe te sien dat skuldiges aanspreeklik gehou word:
# Drie mense is dood en vier ernstig beseer in vanoggend se botsing tussen twee minibustaxi’s en ‘n vragmotor op die N7 by Malibongwe-rylaan in Kaapstad. Die Wes-Kaapse regering sê die N7 suidwaarts bly gesluit by die Potsdamweg- en Malibongwe-rylaan-wisselaar. Motoriste word versoek om die gebied te vermy en alternatiewe roetes te gebruik weens erge verkeersopeenhopings. Nood- en verkeersbeamptes bly op die toneel terwyl pogings voortduur om normale verkeersvloei te herstel.
Nuus uit die buiteland:
# Satellietbeelde dui aan gister se dodelike kitsoorstroming naby Nepal se grens met Tibet is moontlik veroorsaak toe die onderste gedeelte van ‘n gletser afgebreek en honderde meter ver in die vallei neergestort het. Dis nog onduidelik wat die instorting veroorsaak het, maar Nepalese amptenare meen ‘n aardbewing in Suid-Asië kon moontlik ‘n rol gespeel het. Volgens die BBC het die dodetal intussen tot 177 gestyg, terwyl 826 mense steeds vermis word.
# Rugby: Die Stormers-23 word versterk deur die terugkeer van die heelagter Dylan Miller en die slot Gary Porter voor môre se laaste Curriebeker-groepswedstryd teen die Leeus in Johannesburg. Eric Basson begin as losvoorspeler in die plek van die beseerde Divan Fuller, terwyl Luke Burger na binnesenter skuif nadat Cornel Smit beseer is. Die Junior Springbok-flank Gert Kemp is die eerste keer in die opdrafspan. Die Stormers-23 moet wen om die halfeindronde te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-968-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-580-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….