Nuus 14:00
BULLETIN 7 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Beurtkrag keer terug
# Oekraïne se president besoek Suid-Afrika volgende maand
# En ‘n onontplofte bom uit die Tweede Wêreldoorlog bring treine tot stilstand op Frankryk se besigste stasie
# Eskom het aangekondig fase 3-beurtkrag tree vanmiddag 2-uur in werking. Dit sal na verwagting tot Maandagoggend 5-uur voortduur.
# Die Presidensie het bevestig die Oekraïnse president, Volodimir Zelensky, besoek Suid-Afrika op 10 April. Die aankondiging volg ná ‘n gespanne ontmoeting tussen Zelensky en die Amerikaanse president, Donald Trump, wat ‘n tydelike opskorting van Amerikaanse militêre hulp van meer as ‘n miljard-dollar aan Oekraïne veroorsaak het. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die besoek is deel van president Cyril Ramaphosa se vredespogings met Zelensky en die Russiese president, Vladimir Putin.
Ramaphosa het intussen die stigting van ‘n presidensiële werksgroep in Johannesburg voorgestel om aandag te gee aan die stad se finansiële onbestendigheid, die verval van infrastruktuur en diensleweringskwessies. Hy het tydens ‘n vergadering tussen die nasionale uitvoerende gesag en die leierskap van Johannesburg gesê die werksgroep sal daarop fokus om bestuur te verbeter, dienslewering te versnel en die sakekern op te knap voor die G20-leiersberaad in November:
# Die adjunk-minister van Verdediging, Bantu Holomisa, beklemtoon dat die instelling van die 2015 Verdedigingshersiening ‘n nasionale sekerheidsvoorkeur is. Hy het op die WNNR se Internasionale Konferensiesentrum in Pretoria verwys na die Weermag se befondsingstekorte, verouderde toerusting en interne sekerheidsbedreigings. Finansiële beperkings het die hersiening vertraag, wat ‘n risiko vir nasionale sekerheid inhou. Holomisa versoek verbeterde rampreaksie, sekerheidsoperasies, en openbare-privaat vennootskappe om die Weermag te moderniseer:
# Treinverkeer het vandag tot stilstand gekom op die Gare du Nord-stasie in Parys nadat ‘n bom uit die Tweede Wêreldoorlog naby die spoorlyn na Frankryk se besigste stasie gevind is. Die onontplofte bom is oornag tydens instandhoudingswerk gevind. Die stasie in die noorde van die hoofstad is die land se besigste treinspilpunt. Dit bedien die Eurostar-treine asook streeks- en stadsdienste, en vervoer sowat 700-duisend passasiers per dag.
# Sokker: Die wêreldbeheerliggaam FIFA oorweeg ‘n voorstel om die mans-Wêreldbekertoernooi in 2030 uit te brei na 64 spanne. Dit sal aangebied word deur Marokko, Spanje en Portugal, met wedstryde in Argentinië, Paraguay en Uruguay. Die toernooi is reeds uitgebrei van 32 tot 48 spanne wanneer dit volgende jaar in Amerika, Mexiko en Kanada plaasvind. Fifa se president, Gianni Infantino, sê die uitbreiding verhoog inkomste en gee meer spanne die kans om te kwalifiseer. Hy noem ook die behoefte om die sport wêreldwyd uit te brei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-100-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-919-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….