Nuus 14:00
BULLETIN 5 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE sê Suid-Afrika se morele stem is vinnig besig om te vervaag
# Owerhede slaan toe op 50 nie-regeringsorganisasies wat van geldwassery verdink word
# En, Kaapstad stuur ‘n veldtog van stapel om ‘n aandeel in Indië se florerende toerismemark te kry
# COPE sê Suid-Afrika se morele stem is vinnig besig om te vervaag, plaaslik en internasionaal. Die party sê die Amerikaanse president, Donald Trump, is ‘n nabootser-diktator wat dreigemente na Suid-Afrika slinger. Pake Dikgetsi van COPE sê karakters soos die tegnologie-miljardêr Elon Musk en die politieke kommentator Tucker Carlson kan skadelike leuens oor die land versprei sonder enige besware van pro-Suid-Afrikaanse drukgroepe in die VSA:
# Owerhede stel ondersoek in na 50 organisasies sonder winsoogmerk wat verdink word van geldwassery en terreurbefondsing. Die waarnemende direkteur-generaal van Maatskaplike Ontwikkeling, Peter Netshipale, sê sekere buitelands-gesteunde groepe buit NRO’s uit om lede te werf, wat ‘n bedreiging is vir nasionale veiligheid. Hy sê hierdie stap strook met die Finansiële Aksie-taakspan se riglyne. Hy sê ondersoeke na onregmatige transaksies duur voort aangesien die Nasionale Tesourie hoop dat Suid-Afrika teen Oktober van die taakspan se gryslys verwyder sal word.
# Die Stad Kaapstad het ‘n bemarkingsveldtog van stapel gestuur om Indiese toeriste te lok ten einde ‘n groter aandeel van dié land se snelgroeiende uitwaartse toerisme- en beleggingsmark te bekom. Travelport beraam dat Indië se uitwaartse reisigersmark teen 2028 sowat 39-miljoen sal bereik – ‘n reuse-toename van die 28,2-miljoen internasionale Indiese reisigers in 2023. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê om die beste stad in die wêreld-toekenning te verwerf, plaas Kaapstad in ‘n perfekte posisie om die mark te ontgin:
# Die Stad Johannesburg het voorgestel dat De Beerstraat in Braamfontein hernoem word ter ere van Mthokozisi Ntumba, wat tydens studentebetogings in 2021 aan die hand van polisiebeamptes gesterf het. Die voorstel het ten doel om sy nalatenskap te erken en vir die bewusmaking van polisie-wreedheid. Die stad se woordvoorder, Virgil James, sê Ntumba was ‘n omstander ten tyde van die betogings en is met rubberkoeëls doodgeskiet:
# Krieket: Die veelsydige Salman Agha is as Pakistan se nuwe T20-kaptein aangewys, maar Mohammad Rizwan behou die eendag-kapteinskap ondanks die gashere se swak vertoning in die Kampioene-trofee. Hulle het twee van hulle drie groepwedstryde verloor en kon nie die halfeindronde haal nie. Rizwan is nie ingesluit in die groep vir die kortste formaat nie, terwyl die senior kolwer Babar Azam ook nie oorweeg is nie. Pakistan kom van die 16de van die maand tot 5 April teen Nieu-Zeeland te staan in vyf T20s en drie eendagwedstryde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-646 dollar. Die prys van goud is twee-duisend-914-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….