Nuus 14:00
BULLETIN 4 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet finaliseer sy begrotingsinsette voor die indiening op 12 Maart
# Suid-Afrika se ekonomie groei teen 0.6-persent in 2024 vergeleke met 0.7-persent in 2023
# En die Betereinders se veldtog vra eenheid in die land te midde van spanning met Amerika
# Die kabinet het sy insette vir die 2025/’26-begroting afgehandel wat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, volgende Woensdag ter tafel sal lê. ‘n Spesiale vergadering het gister die befondsings-moontlikhede gedebatteer na die geskiedkundige vertraging van die begrotingstoespraak oor ‘n BTW-verhogingskwessie. Volgens Bloomberg sal Godongwana nou fiskale beperkings, ekonomiese groei en die beskerming van lae-inkomste huishoudings moet balanseer. Berigte dui op moontlike belastingverhogings, uitgawe-besnoeiings en pensioenfondsaanpassings. Die finale begroting gaan probeer om skuld te stabiliseer en noodsaaklike dienste te steun.
Suid-Afrika se ekonomie het intussen in die vierde kwartaal van 2024 met 0,6-persent gegroei na ‘n daling van 0,1-persent in die derde kwartaal. Ondanks baie minder beurtkrag in 2024, was die jaarlikse groei slegs 0,6-persent vergeleke met 0,7-persent in 2023. Groei in die vierde kwartaal is hoofsaaklik aangevuur deur groei van 17,2-persent in die landbou-, bosbou- en vissery-sektore. Die vervaardigingsektor het met 0,6-persent gedaal. Die grootste negatiewe bydraes wat aangemeld is, is basiese yster en staal, nie-ysterhoudende metaalprodukte asook motorvoertuie, onderdele en bybehore.
# Die Zanzou-nagklub se direkteur, Neo Moela, ontken alle voorafkennis van ‘n beweerde mishandelingsvoorval by die klub in Pretoria. Dit volg nadat video’s op sosiale media verskyn het waarin gesien is hoe jong mans seksueel en fisies mishandel word. Moela se prokureur, Zola Majavu, sê sy kliënt gee sy volle samewerking aan wetstoepassing en is bereid om wetlik aanspreeklik gehou te word indien nodig:
# Die Afrikaanse drukgroep Betereinders het hulle veldtog Not USA But You SA van stapel gestuur wat ‘n beroep doen vir eenheid in die land terwyl spanning tussen die twee lande steeds voortduur. Dit volg op president Cyril Ramaphosa se kritiek op AfriForum en Solidariteit vir beweerde verdelende mededelings aan die Amerikaanse regering en die bevordering van Afrikanerbelange. Betereinders se medestigter, Johan Erasmus, het aan Newzroom Afrika benadruk Afrikaners is nie slagoffers nie en moet hulle identiteit plaaslik omarm:
# Krieket: Die veteraan top-orde kolwer Ajinkya Rahane gaan die verdedigende kampioen, Kolkata Knight Riders, aanvoer in vanjaar se Indiese Premiersliga. Die 36-jarige neem oor by Shreyas Iyer, wat vanjaar Punjab Kings se kaptein is, terwyl Venkatesh Iyer Rahane se onderkaptein by KKR sal wees. Rahane sê dis ‘n eer om kaptein te wees van die span wat hy beskryf as een van die bestes in die IPL. KKR speel die 22ste gasheer vir Royal Challengers Bengaluru in die openingswedstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-477-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-915-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….