Nuus 14:00
BULLETIN 3 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Buthelezi bevestig Suid-Afrika se verbintenis tot wêreldwye pogings teen korupsie
# COSATU verwelkom inwerkingtreding van verhoging in nasionale minimum loon
# En krieket: Nieu-Seeland is nie bekommerd oor gister se nederlaag teen Indië in die Kampioenetrofee nie
# Die minister van die Staatsdiens en Administrasie, Inkosi Buthelezi, sê die vergadering van die G20 se teenkorrupsiewerkgroep wil korrupsie bekamp wat ontwikkeling en openbare vertroue bedreig. Buthelezi het op die beraad in Somerset-Wes, Kaapstad, weer Suid-Afrika se verbintenis tot die bekamping van korrupsie bevestig. Hy noem aanspreeklikheid en deursigtigheid, met die klem op globale samewerking in die bekamping van korrupsie en tot die bevordering van etiese leierskap. Buthelezi het G20-lande aangemoedig om hul pogings te versterk en veerkragtige bestuurstelsels te bou:
# Die Gautengse regering is besig met leefstyloudits vir voorsieningskettingbestuur en finansiële hoofde onder leiding van die Spesiale Ondersoekeenheid. Dit is in ooreenstemming met premier Panyaza Lesufi se teen-korrupsieveldtog. Woordvoerder Vuyo Mhaga sê die oudits word in fases gedoen en begin met die premier en uitvoerende beamptes, gevolg deur hoofde van staatsinstellings. Die plan beoog om verantwoordbaarheid te verhoog en finansiële wanbedrywe binne die provinsiale administrasie te beperk.
# Cosatu het hierdie maand se inwerkingtreding van die verhoging in die nasionale minimum loon tot 28-rand-79-sent per uur verwelkom. Dit kom neer op inflasie plus 1,5-persent. Matthew Parks van Cosatu sê hierdie positiewe verhoging sal werkers die vermoë bied om beter vir hulle gesinne te kan sorg. Hy sê dit sal ‘n broodnodige ekonomiese inspuiting stimuleer, groei onderhou en werk skep:
# Botswana se minister van Buitelandse Sake, Phenyo Butale, vra sterker handel tussen Afrika-lande om die afhanklikheid van internasionale markte te verminder. Butale het in Noordwes beklemtoon Afrikalande stel dikwels handel met ander vastelande voorop en dit belemmer plaaslike ekonomiese groei en ontwikkeling. Hy beklemtoon die behoefte om streekshandelsbande te versterk en moedig Afrika-lande aan om mekaar se ekonomieë te ondersteun sodat Afrika selfversorgend kan wees:
# Krieket: Nieu-Seeland se snelbouler, Matt Henry, sê gister se Kampioenetrofee-nederlaag teen Indië in Doebai het nie hulle selfvertroue enige skade berokken voor Woensdag se halfeindstryd teen Suid-Afrika in Lahore, Pakistan, nie. Hy het vyf paaltjies geneem om Indië tot 249 vir nege te beperk, maar die Swartpette is toe vir slegs 205 uitgeboul – hulle eerste nederlaag van die toernooi. Henry sê hulle is nie te bekommerd daaroor nie, want hulle speel tans deurgaans goeie krieket. Indië speel môre teen Australië in die eerste halfeindstryd in Doebai.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-147-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-870-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….