Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Onteieningswet gaan die jeug se ekonomiese deelname bevorder
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge eis die terugtrekking van die nasionale minimum loon
# En, tennis: Jannik Sinner se benoeming vir die Laureus-toekennings word teruggetrek na sy opkikkerskorsing
# Die Onteieningswet sal na verwagting geleenthede skep vir die jeug om aan die ekonomie deel te neem. Die minister vir Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, het die regering se plan aangekondig om werkloosheid onder die jeug oor vyf jaar aan te pak. Sy het tydens die eerste Bemagtig die Jeug-indaba in Johannesburg gesê die regering sal sy presidentskap van die G20 gebruik om jongmense vir toekomstige werksgeleenthede voor te berei:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge het ‘n aanmaningsbrief aan die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, gestuur waarin sy versoek word om die jongste nasionale minimumloonverhoging van 4,2-persent terug te trek, aangesien dit ongeldig is. Woordvoerder Gabriel Crouse sê die Wet op die Nasionale Minimumloon vereis dat alle ministeriële regulasies kragtens die wet eers in konsepvorm voorgestel moet word om die publiek 21 dae te gee om kommentaar te lewer:
# Die Stad Ekurhuleni het in sy aangepaste begroting die werker-verwante koste verminder vanaf 12,2-miljard- tot 11,7-miljard-rand en gaan van gekontrakteerde dienste gebruik maak weens hoë vakaturekoerse en misbruik van oortydwerk. Die finansiële komitee het ondoeltreffendheid uitgelig en noem departemente soos Gesondheidsdienste en Maatskaplike Ontwikkeling wat aansienlik baie hulpbronne verbruik sonder om uitslae te lewer. News24 berig opposisieraadslede waarsku oor finansiële druk indien gekontrakteerde werkers gebruik word. Die raad beplan om oortydwerk met 50-persent te verminder en skofte te hersien om produktiwiteit te verbeter.
# Durban se houerterminale ontvang vanjaar meer as 100 nuwe vraghanteringsmasjiene, insluitend 20 oorvurk-draers vir Pier 2 en nege vragmotorhyskrane met rubberwiele vir Pier 1. Transnet Haweterminale het 3,4-miljard-rand in verbeterings in sy vloot belê waarvan die terminale die grootste deel sal ontvang. Volgens Transnet sal bykomende toerusting dwarsdeur die jaar afgelewer word, insluitend skeeps-tot-dok-hyskrane en hibriede oorvurk-draers. Dit sal doeltreffendheid verbeter, koolstofvrystellings verminder en hawebedrywighede verbeter deur belegging in infrastruktuur en instandhouding.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, se Laureus-benoeming vir sportman van die jaar is teruggetrek nadat hy vir drie maande geskors is weens opkikkergebruik. Die driemalige kampioen, wat verlede jaar twee keer positief getoets het, mag in Mei eers weer speel ná ‘n ooreenkoms met die Wêreldagentskap teen Verbode Middels in Sport. Die Laureus-wêreldsport-akademie se voorsitter, Sean Fitzpatrick, sê hulle neem kennis van die versagtende omstandighede, maar die verbod maak Sinner se benoeming ongewens.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-943-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-861-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….