Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die KwaZulu-Natalse regering bevestig die herwinning van vyf liggame na die Lamontville-vloede
# Minstens 46 mense is dood nadat ‘n Sudanese militêre vliegtuig in ‘n woongebied geval het
# En sokker: Manchester City se afrigter, Pep Guardiola, is onder druk maar nie moedeloos nie
# Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in KwaZulu-Natal het bevestig vyf liggame is herwin na erge vloede in Lamontville, in eThekwini. Rampbestuurspanne het die liggame van twee volwasse mans en drie kinders gekry wat vroeër vanoggend tydens swaar reën in ‘n kanaal meegesleur is. Woordvoerder, Senzelwe Mzila, versoek inwoners in laagliggende gebiede om na hoërliggende gebiede te verskuif aangesien die gevaar van oorstromings hoog bly:
# Die Landdroshof in Morebeng, Limpopo, het vandag borgtog van twee-duisend-rand toegestaan aan ‘n 49-jarige polisiesersant wat van ‘n dubbele moord verdink word. Die Nasionale Vervolgingsgesag se provinsiale woordvoerder, , Mashudu Malabi-Dzhangi, sê Constance Sathekge het na bewering vroeër die maand haar seun, Khotso Sathekge, en sy meisie, Naledi Mmonwa, in Botlokwa doodgeskiet na ‘n meningsverskil. Malabi-Dzhangi sê die seun is op die toneel dood, terwyl Mmonwa in die hospitaal aan haar beserings beswyk het:
# Verbruikersinflasie het in Januarie tot 3,2-persent gestyg nadat die mandjie goedere aangepas is. Die data van Statistieke SA toon vleispryse het die derde agtereenvolgende maand gedaal en die prys van graanprodukte het teen ‘n jaarkoers van 3,8-persent gestyg. Statistieke SA se hoofdirekteur van Prysstatistiek, Patrick Kelly, sê die pryse van sommige stapelvoedsels het verder gestyg:
# Minstens 46 mense is dood toe ‘n Soedanese militêre vragvliegtuig in ‘n woonbuurt buite Kartoem neergestort het. Die Antonov-vliegtuig het naby die Lugmagbasis Wadi Seidna geval. Dit is een van die grootste militêre sentrums in Omdurman, noordwes van die hoofstad. Die Weermag, wat sedert April 2023 in ‘n oorlog met die paramilitêre Rapid Support Forces gewikkel is, sê die vliegtuig het met opstyging neergestort en militêre personeel sowel as burgerlikes is dood.
# Sokker: Afrigter Pep Guardiola ontken die taak om Manchester City te herbou is die grootste uitdaging van sy loopbaan. Sy span swoeg om onder die boonste vier in die Premierliga te bly. City, wat vandag weg speel teen Tottenham, is 20 punte agter die voorloper op die punteleer, Liverpool, teen wie hulle die naweek 2-nul verloor het. Hulle is ook uit die Kampioeneliga geskakel. Guardiola, wie se span ses van die vorige sewe Premierliga-titels ingepalm het, sê dit is nie onmoontlik om City te hernuwe nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-973-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-914-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….