Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Aanklagte teen die voormalige Johannesburgse burgemeester Kabelo Gwamanda is voorlopig teruggetrek
# Die Nasionale Beplanningskommissie hou ‘n nasionale dialoog oor dienslewerings-uitdagings
# En rugby: Die Bok- en Stormers-stut Steven Kitshoff kondig sy uittrede aan
# Die staat het voorlopig alle aanklagte teruggetrek teen die voormalige Johannesburgse burgemeester, Kabelo Gwamanda, en sy medebeskuldigde, Mduduzi Zondo, in die Protea-landdroshof. Die twee staan tereg op aanklagte van bedrog gekoppel aan ‘n beweerde begrafnispolis-bedrogspul in Soweto tussen 2011 en 2012. Gwamanda is in Oktober verlede jaar in hegtenis geneem en in November afgedank as die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsontwikkeling. Hy verwelkom die uitspraak en sê sy inhegtenisneming was polities gemotiveer:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Kommunikasie en Digitale Tegnologie en belanghebbendes in die bedryf sê oplossings moet gevind word om die openbare uitsaaier se langtermyn finansiële lewensvatbaarheid te verseker. Die voorsitter van die komitee, Khusela Sangoni, het teenoor SABC News beklemtoon die regering is daartoe verbind om die SABC te bestendig terwyl oplossings ondersoek word om die volhoubaarheid van die uitsaaier te verseker. Sy het ook die Tesourie versoek om by te dra met hulp met die finansiële uitdagings:
# Die Nasionale Beplanningskommissie, staatsdepartemente en die Verenigde Nasies bied vandag ‘n nasionale dialoog oor diensleweringskwessies in Pretoria aan. Die tweedaagse geleentheid sal amptenare, navorsers en gemeenskapsleiers betrek om die skeiding tussen landelike en stedelike dienslewering aan te pak. Besprekings sal fokus op bewysgegronde uitdagings en beleidshervormings om basiese dienste te verbeter. Minister Maropene Ramokgopa sal die hoofrede lewer en strategieë beklemtoon om staatsinstellings te versterk en hulpbrontoewysing te verbeter.
# Rugby: Die stut van die Springbokke en die Stormers, Steven Kitshoff, moes noodgedwonge sy uittrede aankondig weens ‘n ernstige nekbesering. Dokters het hom ingelig dis uiters gevaarlik om voort te gaan. Die 33-jarige het 83 toetse vir Suid-Afrika gespeel, twee keer die Wêreldbeker gewen asook ‘n reeks teen die Britse en Ierse Leeus en ʼn Rugbykampioenskap. Hy het ook 138 wedstryde vir die Stormers gespeel. Kitshoff sê die sport was sy lewe vanaf sy kinderdae en hy was gelukkig om die droom van baie jong seuns uit te leef.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-750-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-939-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-27-sent per vat.
# En ten slotte: ʼn Veearts aan die Universiteit van Pretoria, Liana Coetzee, sê dis steeds voordelig om die hondebevolking te steriliseer om ongewenste werpsels te voorkom en die aantal rondloperhonde en -katte te verminder. Dit is vandag Wêreld Sterilisasiedag wat die aandag vestig op die belangrikheid om troeteldiere te steriliseer, oorbevolking te voorkom en dierewelsyn te verbeter. Coetzee sê ʼn verfynde benadering wat op individuele honde fokus, kan die voordele en gevare van sterilisasie beter balanseer, veral omdat voortplantingshormone ʼn belangrike rol speel in hondegesondheid, ook buiten voortplanting.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….