Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Energieraad beklemtoon beurtkrag is ‘n tydelike terugslag
# ‘n Spesiale kabinetsvergadering word vandag gehou om die dooiepunt in die begroting te bespreek
# En krieket: Suid-Afrika speel môre in die Kampioenetrofee teen die briljante Australië
# Die Energieraad van Suid-Afrika sê die onverwagse instel van beurtkrag is ‘n tydelike terugslag weens elektriese foute by die Majuba- en die Camden-kragstasie, en nie ‘n terugkeer na die krisisvlakke van 2023 nie. Eskom het sedertdien verskeie eenhede herstel en verwag binnekort verdere vordering. Die raad beklemtoon deursigtigheid en samewerking bly die sleutel om beurtkrag te beëindig, aangesien beleggings deur die regering en privaat sektor steeds bestendigheid met energie verbeter. Hulle bevestig groot hervormings word vanjaar verwag en ‘n groothandel-elektrisiteitsmark word in 2026 bekend gestel.
# President Cyril Ramaphosa hou vandag ‘n spesiale kabinetsvergadering om die omstrede begroting te bespreek. News24 berig die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sal na verwagting ‘n alternatiewe begroting voorlê ná die onenigheid in die regering van nasionale eenheid oor die voorgestelde BTW-verhoging van twee-persentasiepunte. Die begroting is verlede week tot 12 Maart uitgestel as gevolg van hierdie dooiepunt. Die vergadering beoog om ‘n middeweg te vind te midde van kommer oor inkomstetekorte en ekonomiese druk.
# Die KwaZulu-Natalse regering sal saam met verskeie departmente werk om gemeenskappe te help na oorstromings. Nege mense is dood, insluitend ‘n kind in Vryheid. Die woordvoerder van die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Senzelwe Mzila, sê die owerhede gaan voort met hulpverlening en opruiming, en vra versigtigheid terwyl die reën voortduur. Hy sê omtrent drie-miljard-rand word benodig om die beskadigde infrastruktuur te herstel:
# Krieket: Suid-Afrika kan ‘n reusestryd verwag in môre se Kampioenetrofee-wedstryd teen Australië in Rawalpindi, Pakistan. Die Proteas het beïndruk toe hulle Vrydag deeglik met Afganistan afgereken het in hulle eerste wedstryd van die toernooi en met 107 lopies gewen het. Australië het egter Saterdag die geskiedenisboeke herskryf toe hulle Engeland se reuse-teiken van 352 in Lahore gehaal het. Die Baggy Green het met vyf paaltjies gewen met 15 balle oor te danke aan Josh Inglis se honderdtal en vyftigtalle deur Marnus Labuschagne en Alex Carey.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-695-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-942-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-33-sent per vat.
# En ten slotte: Die ANC is hartseer oor die dood van , die nasionale uitvoerende komiteelid, Thandi Modise, se dogter. Tsholofelo Mandisa Modise is in die apartheidsera in die tronk gebore toe haar ma, as ‘n lid van uMkhonto we Sizwe, agter tralies was vir haar rol in die bevrydingstryd. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê haar geboorte is ‘n simbool van mense wat vir vryheid geveg het se pyn, opoffering en veerkragtigheid:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….