Nuus 14:00
BULLETIN 21 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa nooi sy Oekraïnse ampsgenoot na Suid-Afrika vir ‘n staatsbesoek
# KwaZulu-Natal en Gauteng het die hoogste moordstatistiek en die Wes-Kaap bly ‘n brandpunt vir bendeverwante moorde
# En krieket: Rickleton vervang die beseerde Klaasen in die Proteas se span teen Afganistan
# President Cyril Ramaphosa het die president van Oekraïne, Volodymyr Zelensky, genooi vir ‘n staatsbesoek ná globale diplomatieke vergaderings. Hul bespreking volg te midde van spanning met die Amerikaanse president, Donald Trump, wat onlangs na Zelensky verwys het as ‘n diktator. Ramaphosa beklemtoon die noodsaaklikheid van ‘n inklusiewe vredesproses in Oekraïne. Zelensky het Suid-Afrika bedank vir sy ondersteuning van Oekraïne se soewereiniteit en sê Suid-Afrika se stem is belangrik. Die voorgestelde besoek het ten doel om diplomatieke bande te versterk en ‘n pad na ‘n regverdige en blywende vrede te bespreek.
# KwaZulu-Natal en Gauteng het die hoogste aantal moorde aangeteken, en verteenwoordig onderskeidelik 21- en 25-persent van die nasionale gevalle. Die Wes-Kaap bly die middelpunt van bendegeweld in die land en verteenwoordig 17-persent van die voorvalle, met 263 bendeverwante moorde van 1 Oktober tot 31 Desember verlede jaar. Moorde in die Oos-Kaap verteenwoordig 18,9-persent van die landwye syfer. Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het tydens die bekendmaking van die jongste misdaadstatistiek gesê sterker wetstoepassing en gemeenskapsvennootskappe is nodig om geweldsmisdade te bekamp:
Adjunkministers in die Departemente van Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekerheid verwelkom intussen die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie se publikasie van besprekingsdokumente oor die hersiening van die Strafproseswet. Dit het ten doel om kwessies soos inhegtenisnemings, borgtog, alternatiewe geskilbeslegting en slagoffer-deelname te hersien. Die publiek word aangemoedig om teen 31 Maart hul insette in te dien. Die adjunkminister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Andries Nel, beklemtoon die belangrikheid van ‘n inklusiewe, slagoffergesentreerde regstelsel. Die besprekingsdokumente is aanlyn beskikbaar vir openbare betrokkenheid.
# Krieket: Suid-Afrika se Kampioenetrofee-veldtog het ‘n vroeë terugslag ondervind toe die ster-kolwer Heinrich Klaasen moes onttrek aan vandag se eerste wedstryd teen Afganistan in Karatsji. Hy het ‘n elmboogbesering opgedoen en dis nie seker hoe lank hy gaan uitsit nie. Klaasen is vervang deur Ryan Rickelton, wat die kolfbeurt saam met Tony de Zorzi geopen het nadat kaptein Temba Bavuma die loot gewen het. Keshav Maharaj is die Proteas se enigste draaibouler, terwyl Afganistan drie draaiboulers gekies het – Noor Ahmed, Rashid Khan en Mohammad Nabi.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-510-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-929-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-52-sent per vat.
# En laastens: ‘n Baanbrekende veiling van ikoniese verhoog- en skerm-voorkomste in Hollywood, Give A Frock LA, aanvaar aanlyn aanbiedings tot Dinsdag. Dit staan onder leiding van die bekende stilis, Lindsey Hartman, en is daarop gemik om fondse in te samel vir diegene wat deur die veldbrande in Los Angeles geraak is. Bekendes soos Cher, Pamela Anderson, Charli XCX, Kelly Rowland, Olivia Rodrigo en Sabrina Carpenter het uitrustings geskenk. Hartman sê die veiling is ‘n kragtige bewys van die vermaaklikheidsbedryf se verbintenis tot sy gemeenskap:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….