Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# NSFAS se raad word versoek om die studente-behuisingskrisis op te los
# Hamas oorhandig die liggame van ‘n Israelse ma en jong seuns wat in aanhouding dood is
# En sokker: Jude Bellingham word vir twee wedstryde geskors na sy teëpratery
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta versoek die nuutaangestelde raad van die studente-finansiële skema NSFAS om dringend aandag te gee aan uitdagings met studente-verblyf deur tydige betalings te verseker. Hy beklemtoon geen kwalifiserende student mag sonder behuising sit nie, aangesien ‘n bestendige omgewing noodsaaklik is vir akademiese sukses. Makaneta versoek ook die raad om ondersoek in te stel na studente wat sonder rede van befondsingslyste verwyder is. Hy vra universiteitsvennootskappe om tydelike oplossings met behuising te verskaf:
# Die Stad Tshwane sê die Rietvlei-natuurreservaat is tydelik gesluit as gevolg van oorstromings wat deur die onlangse swaar reën veroorsaak is. Die paaie is ook beskadig. Die woordvoerder, Lindela Mashigo sê die toestande is gevaarlik:
# Limpopo se premier, Phophi Ramathuba, sal die provinsiale uitvoerende raad lei om die naweek tydens hul begrafnisse ondersteuning te gee aan gesinne van die gesneuwelde lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. Veertien soldate is verlede maand in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo dood in gevegte met M23-rebelle. Die provinsie se woordvoerder, Ndavhe Ramakuela, sê begrafnisdienste is in verskeie dorpe gereël:
# Hamas het doodskiste oorhandig wat hy sê die liggame bevat van vier Israelse gyselaars, insluitend dié van die Bibas-gesin. Die liggame van Shiri Bibas, haar twee seuns, die vierjarige Ariel en die nege-maande-oue Kfir, en die 83-jarige Oded Lifshitz is terugbesorg tydens ‘n seremonie in ‘n voormalige begraafplaas in die suidelike stad Khan Yunis in Gaza. Hamas het die vier swart kiste op ‘n verhoog vertoon voor ‘n banier waarop die Israeliese premier, Benjamin Netanyahu, as ‘n bloedbevlekte vampier uitgebeeld word.
# Sokker: Die dissiplinêre komitee van die Spaanse Federasie het Jude Bellingham van Real Madrid vir twee La Liga-wedstryde geskors nadat hy weens teëpratery afgestuur is. Die skeidsregter, José Munuera Montero, het die Engelse internasionale speler Saterdag ‘n rooikaart gegee tydens die kampioen se gelykop-stryd van 1-elk teen Osasuna. Bellingham hou vol dit was uit frustrasie en hy het nie die skeidsregter beledig nie. Hy sal nou die wedstryde teen Girona op 23 Februarie en teen Real Betis op 2 Maart misloop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-236-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-952-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….